Standerton se Adele Joubert stel ’n Kerspartytjie in die vooruitisg vir 45 kinders
Me. Adele Joubert is nou aan die stuur van sake by die voormalige Genadehoekie op Standerton. Me. Elsabé Jordaan het dié nie-winsgewende organisasie vir 15 jaar bedryf en die leisels aan haar oorhandig. “Wat gaan van al die mense word?” het Adele by haarself gedink. Sy het die naam na ‘Place of Hope’ verander wat …
Me. Adele Joubert is nou aan die stuur van sake by die voormalige Genadehoekie op Standerton.
Me. Elsabé Jordaan het dié nie-winsgewende organisasie vir 15 jaar bedryf en die leisels aan haar oorhandig.
“Wat gaan van al die mense word?” het Adele by haarself gedink.
Sy het die naam na ‘Place of Hope’ verander wat nou inskakel met haar benadering tot welsynswerk.
Haar ouers was die rolmodelle vir dié vrou wat vas oortuig is dat elke mens ‘n storie het om te vertel.
“‘n Mens moet nie ‘n oordeel vel oor mense voordat jy met hulle gepraat het nie,” het Adele gesê.
“Dit maak my boos.”
Adele is gebore en getoë op Dundee en het 18 jaar gelede op Standerton gevestig.
Sy is die ma van vier kinders, Chantelle, Tian, Chané en Eric en ouma van sewe kleinkinders.
“My pa het altyd gesê dat ‘n mens nie op ander mense moet neerkyk nie.
“As jy enigsins kan, deel jou broodjie.”
Van daar af dan haar passie om belang te stel in mense, van die haweloses en dwelmverslaafdes tot by diegene wat noustrop trek, vanweë omstandighede.
Adele beplan ‘n Kerspartytjie vir sowat 45 kinders, met ‘n datum wat voorlopig vir 12 Desember in die vooruitsig gestel word.
Met ‘n springkasteel, koekies en lekkers in gedagte, is ‘n geskenkie vir die jongspan al wat kortkom.
Adele sou in die week van 23 November tot 27 November die dorp met dapper en stapper aandurf om dié projek, deur donasies, te verwesenlik.
“Ek wil graag die blydskap op die gesiggies sien.”
Adele ken van meet en pas.
“Uit een sak mieliemeel kan ek 30 kospakkies maak,” het sy bygevoeg.
Adele het geskat dat daar sowat 30 gesinne is wat nie brood op die tafel het nie, waarvan sewe in Meyerville woon.
Skenkings kan in die tussentyd by Hawthornestraat 3, Meyerville afgelewer word.
Sy beraam tans planne om dit vanaf volgende jaar, by ‘n sentrale punt op die dorp te laat stoor.
Na die besige Kersseisoen agter die rug is, gaan sy ‘n skoleprojek aanpak om klere en skryfbehoeftes vir die kinders in te samel.
“Ek het groot skoene om vol te staan,” het Adele mee afgesluit.
“Ek glo dat dit my roeping is.”



