Survivor-pastoor en gesin groet Secunda om op Hermanus te gaan woon
Gesin sien uit na nuwe hoofstuk in hul lewe.
SECUNDA – Past. Werner Joubert (36) wat die afgelope agt jaar die Shofar-gemeente op Secunda gelei het, groet dié gemeente aan die einde van die jaar.
Past. Joubert en sy vrou, me. Juné Joubert, voel die Here stuur hulle nou na Hermanus, waar hulle die leraar wat reeds daar is, gaan help.
Sy seuntjie, Kaleb (6) sal sy gr. R-jaar op Hermanus begin en sy sussie Talitha, is al twee jaar oud.
“Die kerk op Hermanus is besig om teen ‘n spoed te groei en ek en my vrou word in die kerkbeweging gesien as mense wat gemeentes plant en vestig en dan herhaal op ‘n ander plek,” het past. Joubert gesê.
“Hermanus brei baie uit en ontwikkel en ons wil daar wees om nuwe families in die kerk te ontvang en dan ‘n geestelike pad met hulle te stap.
“Ons voel opgewonde en hartseer om Seunda te verlaat want ons het wortel hier geskiet en ons is regtig lief vir die mense.
“Ons het in 2013 Secunda toe gekom sonder kinders en vriende en nou gaan ons weg met twee kinders en baie vriende.
“Ons het onsself hier kom vestig asof ons vir altyd hier gaan woon en ingeskakel by die kerk en gemeenskap.
“Ons is egter ook opgewonde, want as die Here ‘n mens stuur, kan jy Hom maar vertrou dat dit ‘n wonderlike reis gaan wees.”
Past. Joubert was nou betrokke by Sasol Rugbyklub, eers as speler en later as afrigter.
Hy was in 2018 op televisie te sien in die Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks, Survivor, wat op MNet uitgesaai is.
Hy was een van die laaste vier mense wat oor was op die eiland en hy het as die toeskouers se gunsteling uit die stryd getree.

Hy was nog altyd lief vir sport en het, voordat die egpaar na Secunda verhuis het, in Muizenberg naby Kaapstad gewoon waar hy gereeld branderplank en fiets gery het.
Hy het so jaar en ‘n half terug bietjie minder op rugby gefokus en vir hom ‘n seilplank aangeskaf en dié sportsoort op Trichardtsfonteindam begin beoefen.
Hy sien uit daarna om weer branderplank en met sy seilplank te ry as hulle in Hermanus is. “Ek het baie geleer hier van mense en baie blydskap en trane ervaar en ons wil dit alles saamneem na Hermanus,” het past. Joubert gesê.
“Ons wil alles wat ons hier geleer het, op Hermanus gaan oordra.”
Vir hom en sy vrou was dit die beste agt jaar van hul lewens wat hulle op Secunda bestee het.
“Toe ons op Muizenberg gebly het, was ons naby die see en die mooi berge.
“Wanneer dinge soos dié, wat jy dink jou gelukkig kan maak, van jou weggeneem word, begin jy jouself afvra, wat is die dinge in jou lewe wat regtig waarde toevoeg.
“Die berge en see en mooi dinge kan van ‘n mens weggeneem word, maar niemand kan die Here van jou wegneem nie.
“Ek het in die Kaap, branderplank gery en fiets gery om myself uit te druk en dit was ‘n manier om te ontsnap.
“In die Kaap as ‘n mens depressief is of nie lekker voel nie, gaan koop jy iets of gaan stap langs die see, hiér op Secunda was nie ‘n berg of ‘n see nie, so ek het die Here op ‘n ander manier ervaar.”
Dit was vir past. Joubert lekker om te sien hoe Sasol Rugbyklub gegroei het asook Curro Secunda waar Shofar Kerk hul dienste op Sondae aanbied.
Past. Joubert is ‘n gekwalifiseerde biokinetikus en het dié roeping vir ‘n paar jaar beoefen voordat hy voltyds in die bediening getree het.
Me. Joubert is ‘n fotograaf, maar beplan om, as hulle in Hermanus is, die kamera bietjie neer te sit en meer op die kinders te fokus en op die gemeente waar hulle hulself gaan vestig.
Die omliggende Shofar-gemeentes is nader aan mekaar as hier in Gauteng en Mpumalanga en past. Joubert beplan ook om dan meer betrokke by die Shofar-gemeentes te wees met mannekampe onder andere.
“Ons hart is Jesus se hart en mense moet weet Jesus nooi hulle om in ‘n verhouding met hom te stap.
“Elke mens kan kom en hulle harte vir Jesus oopmaak, daar is nie iets soos hoë vlak Christene nie, jy kan kom nes jy is, jou reis met Jesus kan vandag begin.”
Past. Joubert het gesê hy is trots om die Shofar Secunda-gemeente in die bekwame hande van past. Wiehan Brown te los asook die leiers.
Baie van dié leiers is al langer as agt jaar by die Shofar Secunda-gemeente betrokke.



