Wiehan is gereed vir nuwe seisoen by Sofar op Secunda
Stout seun is vandag pastoor op Secunda
SECUNDA – Past. Wiehan Brown (26) en sy vrou, me. Robyn Brown, is gereed om die leisels oor te neem by past. Werner Joubert by die Shofar Secunda-gemeente.
Past. Brown het op Secunda grootgeword en baie van sy oud-onderwysers en maats vind dit moeilik om te glo dat hy vandag ‘n pastoor is en voltyds vir die Here werk.
Hy het op laerskool al begin rook en op hoërskool al met dwelms begin eksperimenteer. Die Here het past. Brown se lewe egter onheroeplik verander en sedert hy tot bekering gekom het, wou hy net vir die Here leef.
“Ek wou die ‘cool’ ou wees en aanvaar word en in die laerskool is dit mos maklik, jy koop net Jelly Tots en vat aan ‘n meisie se hand in die fliek dan is jy die ‘cool’ ou.
“In die hoërskool is dit ‘n ander storie, dan moet jy bietjie meer doen om ‘cool’ te wees.
“So teen die tyd dat ek in gr. 10 was, het ek al lankal met alkohol begin eksperimenteer, so dit was nie meer snaaks nie. Ek het nie gehou van alleen wees nie en het probeer doen wat my vriende sou dink is ‘cool’ en ek het begin dagga rook.”
Teen die tyd dat past. Brown klaar was met matriek, was sy punte nie van die beste nie, want dit was nie ‘cool’ om hard te leer nie en hy het dus na matriek besluit om vir sy helikopter-lisensie te gaan leer en in Pretoria gewoon.
“Daar het ek saam met vriende in ‘n huis gebly en ons het met ander dwelms begin eksperimenteer soos kokaïene, cat en ecstacy.”
Past. Brown het op dié stadium daagliks dwelms gebruik, behalwe as hy baie hoog wou wees, dan het hy vir twee dae geen dwelms gebruik nie om sy stelsel ‘skoon’ te kry sodat hy dan na die twee dae, as hy weer dwelms gebruik het, ekstra hoog kon voel.
“‘n Mens kan die helikopter-lisensie in sowat ses maande doen, maar omdat my vriende twee tot drie jaar studeer het, het ek ook maar so lank geneem om die lisensie te kry.
Eendag terwyl ek in die ‘pod-kamer’ gesit het, ja ons het ‘n kamer gehad in die huis waar ons gesit en dwelms gebruik het, het ek by myself gedink, is dit nou my lewe, ek is sekerlik nie gemaak om in ‘n kamertjie te sit en dwelms te gebruik nie.”
Past. Brown se vlieginstrukteur het hom genooi vir ‘n naweek saam na ‘n wildsplaas en hoewel past. Brown nie lus was nie, het hy net ‘n gevoel gekry dat hy moes saamgaan.
Dié naweek het hy iemand wat hom later baie so inspireer en vir hom sou bid, mnr. Landon Romano, ‘n Amerikaner, ontmoet. “Hy het vir my gevra of ek gered is en ek het gesê ja, natuurlik is ek.
“Ek het mos in die gemiddelde, Afrikaanse kerk grootgeword en almal in Suid-Afrika, of die meeste mense is mos ‘Christene’.”
Past. Brown het vinnig opgemerk dat mnr. Romano oor alles bid en ‘n hegte band met die Here het en mnr. Romano het past. Brown en sy vriende vertel van die werk wat die Here in sy lewe gedoen het.
“Hy het net al meer en meer tyd met my en my vriende begin bestee en selfs in ons ‘pod-kamer’ kom sit en kuier en gesels.”
Past. Brown en sy vriende is later saam met mnr. Romano kerk toe en hy het na die kerkdiens in ‘n restaurant sy hart vir die Here gegee.
Me. Brown, wat toe nog sy meisie was, was ook dié dag saam met hom kerk toe en in die restaurant en het ook haar hart vir die Here gegee. Hy het die dwelms dié dag, sonder enige rehabilitasie, gelos en is ‘n week later gedoop.
Hy het nooit weer lus geraak vir dwelms nie, net vir sigarette as hy dit op televisie gesien het, maar hy was verlos van dwelms.
“Die ‘pod-kamer’ was so vuil, toe ons tot bekering gekom het, het ons drie sakke vullis daaruit gedra nadat ons begin skoonmaak het.”
Vir past. Brown was pornografie die moeilikste binding en hy het nog vir ‘n rukkie na sy bekering gesukkel om dit te laat gaan.
“Ek het ‘n vriend gevra om my ‘accountability partner’ te wees en mettertyd kon ek ook breek van dié verslawing.”
Past. Brown het in 2014 by die Shofar Secunda-Kerk aangesluit en begin om teologie te studeer.
Hy het in dieselfde week wat hy tot bekerig gekom het, die Here se roeping op sy lewe ervaar en dit in sy notaboetkie neergeskryf.
Past. Werner Joubert, wat tot dusver die hoofpastoor by die Shofar Secunda Kerk was, het past. Brown ‘n paar jaar gelede genader en gesê hulle sien ‘n roeping op sy lewe.
Past. Brown het op dié stadium nog as verkoopsverteenwoordiger vir ‘n digitale onderneming op Secunda gewerk.
Hy het toe deeltyds begin werk as pastoor en later vanuit sy werk bedank om voltyds by Shofar Kerk te werk.
Hy en me. Brown gaan al sedert hul skooldae uit en weens sy dwelmmisbruik, het hulle ‘n aan-af-verhouding gehad maar die paartjie is in 2017 getroud.
Hulle het ‘n eenjarige seuntjie van hul eie en ‘n tweejarige seuntjie in pleegsorg.
Past. Brown is opgewonde oor dié roeping en het gesê hulle is die vrug van herlewing en as die Here hom kan red, kan Hy enige iemand red.



