Local newsNews

Hazel van Vuuren onthou ’n paar dinge uit haar lewe op Standerton

Uit haar huwelik met wyle oom Jaap is een dogter en vier seuns gebore.

Me. Hazel van Vuuren van Standerton het die sonderlinge eienskap dat werkgewers eerste met haar in verbinding getree het, sonder dat sy die gewone stappe van aansoek vir ‘n werk gedoen het.

Die kleinhandel by Edgars en Foschini op die dorp was haar kos, hoewel Gert Sibande Kollege haar na aftrede genader het om Engels te kom gee.

“Hulle wou my vir net twee weke inspan en uiteindelik het ek drie maande daar gewerk,” het tannie Hazel gesê.

Sy was vir 20 jaar bestuurder by Foschini, het die winkel se vooruitgang eerstehands beleef en met 14 personeellede onder haar, is toekennings ontvang.

“Nee, nee, nee, ek het nie platskoene gedra nie,” het sy onthou.

“Ek het daarvan gehou om mense in die regte kleure en volgens hulle figuur, en wat by hulle pas, aan te trek.”

Bonusse is ook gelykop onder die werknemers verdeel.

Tannie Hazel het op Oos-Londen grootgeword en op 24-jarige ouderdom het haar ouers Standerton toe getrek.

Nou praat ‘n mens van ‘n goeie 60 jaar op die Hoëveld. Uit haar huwelik met wyle oom Jaap is een dogter en vier seuns gebore, twee seuns, Japie en Alex, hou skool op Mkhondo (Piet Retief),

Thinus was werksaam by die Lekwa Munisipaliteit, Charles is die hoof van Standerton Primary School, met Eda wat hoeka by Laerskool Kalie de Haas afgetree het.

Oom Jaap en tannie Hazel was 48 jaar lank getroud.

Hulle het op een stadium twee kinders by die destydse Goudstad Onderwyskollege gehad en een by die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit.

“My kinders verskil so 15 maande van mekaar,” aldus tannie Hazel.

Ses kleinkinders, drie seuns en drie dogters, almal nou volwassenes, is nou haar hart se punt.

“Ek is baie lief vir my kleinkinders,” het sy laat blyk.

Standhoudend is sy gewis as ‘n mens in aanmerking neem dat sy haar hare een maal per week, nog by dieselfde haarkapper, laat doen.

Sy bly ook in dieselfde huis wat haar man haar nagelaat het, met Penny, die hond en die twee kietsies as geselskap.

Tannie Hazel is ‘n mezzo-sopraan en was van tyd tot tyd by plaaslike geleenthede op die verhoog te hoor, en sing ook in die kerkkoor.

Die radio speel die hele dag vir dié 85-jarige vrou wat lief vir musiek is.

“Skottelgoedwas is dan ‘n plesier,” het sy gesê.

Dié pensioenaris het voor inperking elke Woensdag vir die bejaardes by die Kosmos Aftree-oord uit die Bybel gelees, en as diaken by die Hervormde Kerk, wag daardie takies maandeliks op haar.

Moet ook nie vergeet van die blokkieraaisels en boeke uit die biblioteek nie.

Persoonlikheidseienskappe waaraan sy ‘n kleintjie dood het, is oneerlikheid en skynheiligheid.

Dié familievaste vrou sal ongetwyfeld tussen haar mense op Kersfees wees, want die Van Vuurens maak beurte oor waar hulle bande verstewig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button