Local newsNews

Secunda se mense ondersteun boere in Noord-Kaap wat niks oorhet nie

Me. Turner en me. Heiberg was deel van ’n groep wat op Donderdag, 19 November, vanaf Trichardt na Upington vertrek het. 

TRICHARDT – Twee vriendinne, me. Joanita Turner en me. Ina Heiberg, het besluit om hande met die gemeenskap en ander ondernemings te vat om die boere in nood in die Noord-Kaap wat al vir jare deur droogte geteister word, te help.

Hulle het onlangs ’n projek, Hoop vir ’n Boer, geloods en met dié projek is daar op Vrydag, 20 November, ’n paar vragmotors vol bale en voer na die Noord-Kaap gereis.

Dié twee vriendinne het ’n hartroerende boodskap op sosiale media gelees en dit het hulle harte geroer om iets vir boere in die Kaap te doen.

Die twee vriendinne, me. Joanita Turner en me. Ina Heiberg in hul voertuig
op pad na die Noord-Kaap om vir boere daar bale hooi en voer te gaan aflaai. (Foto: Verskaf)

Me. Turner se suster, me. Anzel Stoop, is ook by dié projek betrokke.

Hulle besit ondernemings op Trichardt en in KwaZulu-Natal, wat onder andere, voer verkoop. Me. Turner het gesê die boere in die omgewing van Olifantshoek en Upington het agt jaar laas ordentlike reën gekry. “Baie van die boere het hul kinders uit die skool gehaal want hulle het nie meer geld vir skool of skryfbehoeftes nie,” het me. Turner gesê.

“Van daardie kinders was drie jaar laas skool toe.”

Me. Turner en me. Heiberg was deel van ’n groep wat op Donderdag, 19 November, vanaf Trichardt na Upington vertrek het.

Hulle het op Saterdag, 21 November, die bale hooi, voer en ander benodigdhede vir die boere afgelaai.

 

Die groep wat deel was van die projek, Hoop vir ’n Boer, op pad Noord-Kaap toe op Vrydag, 20 November. (Foto: Verskaf)

“Ons kon net sowat 30 boere help en daardie was net ’n week se voorraad vir hulle,” het me. Turner gesê.

“Daar is tans 130 boere net in daardie omgewing, wat so sleg deur die droogte geraak word.” Me. Stoop het gesê: “Daar is ’n groot nood en daardie mense het nie meer hoop nie, ons kon minstens vir hulle weer bietjie hoop gee.”

Die dag wat die groep by die aflaaipunt naby Olifantshoek aangekom het, het dit bykans 3mm gereën in dié gebied.

Die koördineerders van die Hoop vir ’n Boer-projek beplan om op 4 en 5 Desember weer bale hooi, voer en ander benodigdhede na boere in die Noord-Kaap te neem.

Sekere gebiede in die Noord-Kaap het agt jaar laas ordentlike reën gehad. (Foto: Verskaf)

Me. Heiberg en me. Turner het die gemeenskap aangemoedig om hul harte oop te maak en geld, voer, bale hooi, niebederfbare kos, skryfbehoeftes of enige iets anders te skenk.
Hulle het hul borge, mnre. Hannes de Vos, Francois Rossouw, Francois Viljoen, Jaco Horn en Jac Steyn, Evander Sasol Vulstasie, DIY Trichardt, Danro Transport en hul anonieme borge, bedank.

“Ons wil probeer om vir die kinders iets soos lekkergoed te gee vir Kersfees, hulle het niks nie,” het me. Turner gesê.

Me. Turner het gesê as die gemeenskap voer vanuit haar winkel wil saamstuur, sal sy dit teen kosprys verkoop.

Vir meer inligting, of as jy dié projek wil ondersteun, skakel me. Turner by 074 999 5924 of 083 282 0229.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button