Local newsNews

Weermag tree op in belang van oud-lede

Die Militêre Veterane Wet van 2011 maak ook voorsiening vir voordele aan veterane.

Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Standerskop-eenheid van militêre veterane het die agtergrond van strukture geskets.

Mnr. Leon Hattingh van dié eenheid het tydens ‘n onderhoud meer oor hul werksaamhede vertel.

Die SAWV is gestig in belang van alle oud-lede wat diens gelewer het tydens die bestaan van die Unie Verdedigingsmag en die Suid-Afrikaanse Weermag vanaf 1946 tot 1994, asook in die SA Nasionale Weermag.

Volgens die SAWV, kan oudlede van die polisie en die gevangenisdiens, asook die publiek as ondersteunerlede aansluit.

Genl. Jannie Geldenhuys, voormalige hoof van die SA Weermag, het die vereniging in 2009 gestig met die doel om militêre veterane erkenning vir hul bydrae in die ontwikkeling van Suid-Afrika te gee.

“Manne en vroue wat opgeoffer, gedien en ‘n prys betaal het,” het ‘n verklaring van die SAWV gelui.

“Hierdie is mense wat hul land onbaatsugtig gedien het en verdien om erken, onthou en versorg te word.”

Mnr. Hattingh het verduidelik dat die eenheid funksioneer onder sektore, dan provinsiaal tot nasionaal.

Hy beklee tans die rang van eersteklas-sammajoor in die nasionale weermag.

Eenhede is betrokke by gemeenskaps- en welsynsprojekte om lede te ondersteun en kameraadskap te hernu.

Standerskop-eenheid is in Maart 2016 gestig en het 113 ingeskrewe lede.

Hulle het verlede jaar, tydens die grendeltydperk, kospakkies op Standerton aan mense in nood uitgedeel.

Maandelikse ontbytgeleenthede gee veterane ‘n kans om sosiaal te verkeer.

“Die ouens geniet dit, hoewel Covid-19 hulle bietjie die skrik op die lyf jaag,” het mnr. Hattingh bygevoeg.

Die Militêre Veterane Wet van 2011 maak ook voorsiening vir voordele aan veterane.

Volgens mnr. Hattingh, help die vereniging hul lede om by die Departement van Militêre Veterane vir voordele te registreer.

“Voordele sluit in mediese bystand, behuisingsbystand, begrafnisdekking en skool- en universiteitsbeurse,” het hy ook gesê.

Die eenheid beplan ‘n hengeldag op 27 Februarie en 27 Maart word opsy gesit vir ‘n gholfdag, wat deel vorm van geldinsamelingsprojekte, ook genoem die ‘makkerhulpfonds’. Voorts word verversings by die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se skietkompetisies verkoop.

Belangstellendes kan vir meer inligting ‘n e-pos aan sawv@milvets.co.za stuur, of mnr. Hattingh by 082 928 7892 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button