Morgenzon-inwoners versper dorp se ingang
Die vragmotorbestuurders vervoer steenkool na Majuba Kragstasie en van die grondpaaie, wat munisipale eiendom is, het inmekaar gesak en die dreineringstelsel is onder druk.
Inwoners van Morgenzon het die toegangsroete vir vragmotorbestuuders op Donderdag 18 Maart versper.
Volgens die sakeman, mnr. Corné van Dijk, was alles vreedsaam op die dorp.
Met 28mm reën wat die vorige aand op die dorp geval het, was dit bra modderig en paaie was onbegaanbaar.
Motors is wel deurgelaat en vragmotors klaarblyklik herlei.
Die Standerton Advertiser het in sy uitgawe van 19 Maart voorbladdekking aan die situasie op ons buurdorp gegee.
Die volledige artikel is op die webtuiste www.ridgetimes.co.za beskikbaar.
Om in ‘n neutedop saam te vat, is die verval van Morgenzon, afkomstig van vragmotors op die paaie, onder die loep gebring.
Sakelui, inwoners en ‘n wykraadslid het reeds op 10 Maart ‘n vergadering met ‘n kontrakteur van Sanral gereël en aangedring dat vragmotors ‘reroute’ word.
Die vragmotorbestuurders vervoer steenkool na Majuba Kragstasie en van die grondpaaie, wat munisipale eiendom is, het inmekaar gesak en die dreineringstelsel is onder druk.
“Morgenzon is nie bedoel om sulke verkeer te dra nie,” het mnr. Van Dijk vroeër gesê.
Hy het by ‘n vorige geleentheid aangevoer dat paaie beskadig word, vragmotorbestuurders wetteloos bestuur en goedsmoeds parkeer waar hulle wil, en sypaadjies en stormwaterstelsels in die slag bly.
Volgens hom, is die gemeenskap eensgesind om so gou moontlik met Eskom en Sanral te vergader om die kwessie te beredder.
Die koerant wag op kommentaar van twee rolspelers naamlik die Sanral-hoofkantoor en die Lekwa Munisipaliteit.



