Local newsNews

Boervrou van Standerton vertel van haar lewe

Die uitdaging waarvoor ’n binnehuise versierder te staan kom volgens haar, is om die prentjie in ’n klant se kop te laat realiseer.

‘n Boervrou van Standerton wat in eie reg ‘n entrepreneur is, het vyf jaar gelede saam met haar man, Frikkie, uit Mooinooi hier kom nesskop.

Me. Louisa Eloff het met onderwysdiploma in die hand, haar eers op onderrig by Oom Paul Skool op Rustenburg toegespits.

Dié skool het gefokus op kinders met leerprobleme.

Met haar junior-primêre kwalifikasie wat destyds by Ou Pote op Potchefstroom behaal is, het sy die behoefte vir ‘n kleuterskool raakgesien en Morsjorsie Kleuterskool op Mooinooi begin.

Sy het dié TOD-geaffilieerde kleuterskool vir vyf jaar bestuur, waar die verskil tussen formele onderrig by ‘n skool, en die aanleer van motoriese vaardighede, spelenderwys by ‘n kleuterskool ‘n loopbaanverandering teweeg gebring het.

Louisa het haar eie onderneming begin, naamlik binnehuisversiering, toe haar drie kinders skoolgaande was.

‘n Mode-ontwerpkursus en naaldwerklasse het tot die maak, in haar werkswinkel, van onder meer gordyne vir huise en hotelle gelei.

“Ek het gekontrakteer, gefabriseer, gekwoteer en klante van raad bedien,” het sy gesê.

Louisa het vir 22 jaar oor ‘n wydverspreide gebied op Rustenburg haar klantebasis verstewig.

“Ek was nog baie jonk toe ek vir Frikkie gesê het ‘jy boer’ en ‘ek doen my ding’.”

Die oudste dogter Talita, was vir vyf jaar betrokke in dié onderneming en getrou aan die Eloff-gene, het sy ook na Standerton verhuis om met skape te begin boer.

‘n Ander lid van die gesin, hul seun Rikus, het eerste op Standerton opgedaag en vir wyle Jan Goosen en sy vrou, Celia geboer voordat hy en sy vrou, Loezytha sak en pak na Australië verhuis het.

“Rikus was reeds 12 jaar op die Hoëveld voordat ons ook getrek het.

“Die Hoëveld met sy mooi kosmosse het ons gelok.”

Die familie is byna voltallig op Standerton met ouma Mavis le Roux, wat in ‘n woonstel op die dorp woon en die jongste dogter, die argitek Janine, en haar man, Johan Swart, wat in die grendeltydperk hierheen verhuis het.

Louisa was kort-kort op soek na oudhede in winkels, hoewel sy haarself eerder as geïnteresseerd in ‘crafts’ beskryf.

“Ek het daarvan gehou om oudhede met die moderne te kombineer en detail in warm, koninklike kleure verkies.”

Die uitdaging waarvoor ‘n binnehuise versierder te staan kom volgens haar, is om die prentjie in ‘n klant se kop te laat realiseer.

“Soms was dit selfs moeilik vir hulle om te verwoord wat hulle wou hê.”

“Dit was jou beloning as ‘n klant in die vertrek ingestap en tevredenheid met die eindresultaat laat blyk het.

“Ek het interessante mense ontmoet en goeie vriende gemaak.”

Louisa was hoof by Liefiekind Dagsorg op die dorp toe die kinders Australië toe is.

Dié ouma van vier en Talita het ‘n ondervinding wat skrik vir niks gehad toe hul die laaste vlug, voor Covid-19 regulasies in alle erns begin het, vanaf Perth gehaal het.

Tydens hul laaste week op besoek na Doer-Onder, het lugrederye hul vlugte begin kanselleer en drie dae voor die vertrek na Suid-Afrika, het ‘n direkte roete nie meer bestaan nie.

Perth na Singapoer na Oliver Tambo-lughawe was die enigste opsie.

By Perth-lughawe, is slegs hul koors gemeet en die lang wag van drie ure het begin.

Die Eloffs het vir twee uur in die vliegtuig moes sit terwyl lugwaardinne en vlugpersoneel aan boord moes gaan.

“Dit was toe dat ons gehoor het dit is die laaste vlug Suid-Afrika toe.”

Ook was die vliegtuig nie baie vol nie en vragte is gelaai, wat later verminder moes word.

Terug op die Afrika-vasteland se Johannesburg, het instruksies gevolg oor twee weke se huiskwararantyn.

“Ek vind my standvastigheid in geloof in die Opperwese,” het Louisa gesê.

Vir ‘n vrou wat van ‘n uitdaging hou en seisoensveranderinge in huise, met die gebruik van kussings van verskillende kleure kon bewerkstellig, is dit heel moontlik die begin van nog ‘n seisoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button