Local newsNews

Nadia geniet werk by Terra Nova Aftree-oord op Trichardt

Suster vertel van belewenisse oorsee.

TRICHARDT – Me. Nadia Dawe het na baie jare in Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, besluit om haarself weer in haar tuisland te vestig.

Sy woon die afgelope drie jaar op Trichardt.

Sy is die bestuurder en ‘n geregistreerde suster by die nuutste aftree-oord in die omgewing, die Terra Nova Aftree-oord.

Me. Dawe het in verskeie dorpe gewoon as kind omdat haar ouers baie rondgetrek het en sy het ná skool haar verplegingsopleiding in Pretoria voltooi.

Sy het vir 19 jaar op Richardsbaai gewoon voordat sy vir vyf jaar in Saoedi-Arabië gaan werk het.

Dié besluit, om Suid-Afrika vir Saoedi-Arabië te verruil, het gekom omdat me. Dawe haar kinders deur universiteit wou kry.

“Ek het Saoedi-Arabië baie geniet, dit was ‘n belewenis,” het me. Dawe vertel.

“Ek was bang om te gaan, maar dit was lekker.

“Ek het ook maar die swart rokkies gedra en in ‘n woonbuurt vir vroue gebly.

“Dit was soos om in ‘n koshuis te bly. Die vroue en mans mag nie meng nie en vroue mag nie bestuur nie so ek het weer soos ‘n kind gevoel.”

Ten spyte van al die vreemde reëls en regulasies in Saoedi-Arabië, het me. Dawe baie mense daar ontmoet en meer van ‘n sosiale lewe daar gehad as nou in Suid-Afrika.

Sy het ook ‘n ander kant van die mediese wêreld gesien en geleer.

Me. Dawe het meer by saakbestuur en die akkreditasieproses van hospitale en verpleging betrokke geraak.

Sy het later ‘n aanbod van die Verenigde Arabiese Emirate gekry en Saoedi-Arabië vir dié land verruil.

Daar het sy vir ‘n groot staatshospitaal gewerk.

Me. Dawe het haar man, mnr. Phil Dawe, in Saoedi-Arabië ontmoet en beide het vir 10 jaar in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate gebly.

“Die lewe in die Verenigde Arabiese Emirate was meer normaal as in Saoedi-Arabië en ons het goeie verlofvoordele gehad, so ons kon baie doen en beleef,” het me. Dawe vertel.

“Ons het graag na Europa en ander omliggende lande gereis omdat dit so goedkoop was.

“Ons het in die woestyn gekamp en op kamele gery.”

Die egpaar is al 10 jaar getroud en het in 2017 besluit om na Suid-Afrika terug te keer om nader aan hul kinders en kleinkinders te wees.

Me. Dawe geniet haar werk by Terra Nova Aftree-oord en is opgewonde oor dié oord se verswakte sorgafdeling wat binnekort oopmaak.

In haar vrye tyd geniet me. Dawe dit om kwiltwerk te doen. Sy het ‘n kursus van sewe weke vir kwiltwerk in die Verenigde Arabiese Emirate voltooi.

Sy en mnr. Dawe het by die rolbalklub op Secunda aangesluit en derde geëindig in ‘n geborgde dag wat onlangs by die rolbalklub aangebied is.

Related Articles

 
Back to top button