Help organisasie om pleeghuis op Secunda oop te maak
Neem ’n kamer aan vir seuns, dogters of versorgers en maak dit mooi.
SECUNDA – Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) Hoëveldrif se pleeghuis wat veronderstel is om in April sy deure oop te maak, vorder goed, maar daar is nog baie werk.
Die SAVF-bestuur het besluit om nog so ‘n huis in die omgewing oop te maak, omdat daar so groot behoefte is.
Kinders wat nie meer by hul ouers kan bly nie weens verwaarlosing, mishandeling, geweldpleging, verkragting en dwelmmisbruik, kan deur die hof na ‘n pleeghuis of ‘n plek van veiligheid vewys word.
Me. Annamarie Esterhuizen, organiseerder van dié projek en ontvangsdame by die SAVF, het gesê hulle grootste behoefte tans is om teëls vir die badkamermure en die storte te kry.
Ander dringende items wat hulle benodig, is ‘n toilet, twee wasbakke vir twee badkamers, ‘n stortdeur vir een van die badkamers, kombuistoerusting wat groot potte en klein potte insluit, verf om die buitekant van die huis te verf, ‘n Wendyhuis wat hulle as stoorkamer wil gebruik, sementtafels- en banke om in die tuin te gebruik en speelgoed vir die kinders.
Dié pleeghuis sal in Kansa se ou kantore op Secunda oopmaak en sal 24 kinders, vanaf geboorte tot 18 jaar oud, kan huisves.
Die huis sal uit drie kamers vir dogters, drie kamers vir seuns en twee kamers vir die versorgers bestaan.
Die SAVF sal versorgers vir die kinders moet aanstel en dié versorgers se salarisse sal ‘n maandelikse uitgawe wees asook kos, water- en elektrisiteitsrekeninge en daaglikse behoeftes van die kinders.
Die SAVF gaan dus op ‘n volhoubare basis geld benodig om in die kinders se behoeftes te voorsien. Me. Esterhuizen het gesê hulle benodig ook nog borge om die kinders se kamers te versier en van beddegoed en ander benodighede te voorsien.
“Ek het gedink ons kan dalk die kamers opdeel en ‘n groep vriendinne, of ‘n groep mense kan ‘n kamer ‘aanneem’ en dit saam versier en beddegoed en ander benodighede borg,” het me. Esterhuizen gesê.
Die SAVF benodig ook nog ‘n loodgieter om onder andere, waterpype op te koppel, ‘n elektrisiën om seker te maak al die ligte en elektriese toebehore is reg en om ook ‘n sertifikaat van veiligheid uit te reik, asook bouers en vrywilligers om te help met die laaste bou- en opknappingswerk, en tuinwerk.
Van die ander items wat die SAVF nog moet kry voordat die huis kan oopmaak, is 30 matrasbeskermers, 30 kussings, 30 paslakens, 30 kussingoortreksels, nege stelle gordyne, nege stelle kantgordyne, 12 los matte, ses bedkassies, 144 hangers, vier stelle gordyne- en kantgordyne vir die badkamers, twee spieëls vir die badkamers, 30 handdoeke, 30 waslappe, beddegoed en gordyne vir die versorgers se kamers, meubels, gordyne en toebehore vir die sitkamer- en eetkamer, items vir die wasgoedkamer, die kombuis, breekgoed, omheining en ligte vir die buitekant van die huis en skryfbehoeftes.
As jy betrokke wil raak as vrywilliger of iets wil skenk, skakel me. Esterhuizen by 072 348 2197 of 017 634 7719 of stuur ‘n e-pos na Secunda.admin@savf.co.za.
Die SAVF het onlangs ‘n tweedehandse klerewinkel by hul kantoor oopgemaak.
Besoek dié winkel by die Besterecta-geboue in Nelson Mandela Drive.



