Corrie Nel leer vroue op Secunda en omgewing om te brei en klere te maak
Me. Nel het onlangs by Sabers op Trichardt begin om breiklasse aan te bied.
SECUNDA – Me. Corrie Nel werk graag met haar hande en het al lampskerms vanuit teesakkies gemaak en prente op ‘n trourok en matriekafskeidrokke geverf.
Sy het geleer brei, hekel en naaldwerk doen toe sy nog in die laerskool was.
“Ek kan nie onthou dat ons ooit klere vanuit winkels gedra het nie, my ma het al ons klere gemaak,” het me. Nel vertel.
Haar ma, me. Sus van Rensburg, het haar geleer brei, hekel en om klere te maak.
“Ek was baie lief vir lees en ek mag nie ‘n boek gelees het voordat ek nie iets gebrei of gehekel het nie, toe het ek geleer hoe om te lees en brei of hekel terselfdertyd.”
Me. Nel se ouma, me. Nelie Woite, was ook lief vir hekel, brei en klere maak en het ‘n klerewinkel op Ventersdorp gehad.
Na al die jare is dit steeds brei, hekel of klere maak, wat me. Nel gelukkig maak.
Me. Nel het onlangs by Sabers op Trichardt begin om breiklasse aan te bied.
Van die mense wat by haar klas loop, het nog nooit gebrei nie, maar drie ure later kon hulle slaapsokkies brei.
Sy gaan dié vroue onder andere nog leer hoe om handskoene te brei.
Me. Nel se einddoel is om dié vroue te leer hoe om ‘n trui te brei.
“Ek wil hulle leer hoe om uit te werk hoeveel steke om te gebruik sodat hulle self die grootte van die truie wat hulle brei, kan bepaal en nie volgens ‘n patroon wat ‘n sekere grootte is, te werk nie,” het me. Nel gesê.
Sy het vir jare klere en trou- en matriekafskeidrokke gemaak, maar deesdae maak sy net klere vir haar kleinkinders.

Me. Nel en haar man, kol. Willie Nel, wat verlede jaar as stasiebevelvoerder by Secunda Polisie afgetree het, woon al 24 jaar op Secunda.
Sy het op Wolmaransstad grootgeword en na skool ‘n graad in BSc Huishoudkunde aan die Universiteit van Potchefstroom verwerf.
Sy wou graag vir die wol- of vleisraad werk, maar teen die tyd dat sy haar graad voltooi het, het beide dié rade toegemaak.
Sy het na haar studies vir ‘n skool met kinders met spesiale leerbehoeftes gewerk en later in die kombuis by FedEx Food in Pretoria.
Toe me. Nel se oudste kind gebore is, het sy opgehou werk en voltyds ma gespeel en dit is toe dat sy haar meer daarop toegespits het om klere te maak.
Sy het onlangs vir die eerste keer ‘n lampskerm vanuit teesakkies gemaak nadat sy dié idée op televisie gesien het.
“Ek was bietjie lus vir iets anders.”
Sy maak die lampskerms en kol. Nel maak die houtvoetstukke.
Sedert hy afgetree het, toer die egpaar meer gereeld wildtuin toe, of see toe of gaan kuier by hulle kinders en kleinkinders op Potchefstroom en Nelspruit.
Hulle het twee dogters en drie kleinkinders.
In haar vrye tyd geniet me. Nel dit om bietjie tuin te maak of om konfyt of vrugtelekkers te maak of kerrieboontjies in te lê.
Sy beplan om binnekort te begin om in die aande breiklasse aan te bied en sy was voor die inperking by House of Mercy se projek waar hulle vroue leer naaldwerk doen, betrokke. “Ons soek nog mense om te help om klasse aan te bied.”
As jy by House of Mercy betrokke wil raak en dié projek wil ondersteun of kan help om klasse aan te bied, skakel me. Nel by 082 571 3764.
Om breiklasse by Sabers by te woon, stuur ‘n WhatsApp boodskap na mnr. Yakub Sabre by 083 452 7702.



