Ma sê Evander Hospitaal weier om te help
Uitvoerende hoof sê ma moet klagte indien en voorval beskryf.
EVANDER – Ouers van ‘n sewe-maande-oue seuntjie is ongelukkig oor die diens wat hulle by Evander Hospitaal gekry het en die manier waarop hulle daar behandel is.
Volgens me. Christa Botha het haar seuntjie, Rikus Harman, se bors begin toetrek op 10 Maart en hy het gesukkel om asem te kry.
Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie en hulle het hom na Evander Hospitaal geneem.
“Hulle het daar vir hom ‘n lêer oop gemaak, maar ons moes R50 daarvoor betaal,” het me. Botha vertel.
“Ek het vir haar gesê ek het niks geld nie en toe het sy gevra of ons ‘n afspraak gemaak het. Ek het gesê nee.
“Sy het gesê ons moet eers ‘n verwysingsbrief van die kliniek op Secunda kry.
“Hoe kan ek eers ‘n verwysingsbrief kry en so rondry as my kind sukkel om asem te kry?”
Volgens me. Botha het die personeel by Evander Hospitaal net volgehou dat hulle haar nie kan help sonder ‘n verwysingsbrief nie.
“Ek was al baie na die klinieke op Secunda en Trichardt en daar is nooit ‘n dokter nie, hulle kan ‘n mens ook nie help nie.”
Haar ma, me. Landi Barkhuizen, moes ook by Evander Hospitaal wag om ‘n dokter te sien en sy het toe gesê haar dogter moet met haar kleinkind by haar sit en wag.
“Die dokter wat my ma gehelp het, was baie oulik.
“Sy het ons probeer help, maar sy kon nie Rikus se lêer kry nie en sonder die lêer kon sy ons nie help nie,” het me. Botha vertel.
“Die suster wat gevra is om vir ons die leêr te gee, het net haar tong geklap en geweier om ons te help om die lêer te kry.
“Ander mense wat by die hospitaal gesit en wag het, is wel gehelp, sonder verwysingsbriewe. Ons was bereid om ook te wag, maar hulle wou ons nie help nie.
“Hulle het my en my baba weggewys.”
Sy was met Rikus kliniek toe, en hulle kon ook nie help nie, want hulle kon glo nie elke paar weke antibiotika gee nie.
Volgens me. Botha het personeel by die kliniek ook geweier om vir haar verwysingsbriewe te gee sodat Rikus ‘n dokter kan sien.
Me. Botha het ‘n vorige keer toe Rikus ook gesukkel het met sy bors wat toetrek, donasies van mense gekry om vir hom medisyne by die apteek te gaan koop en om ‘n dokter te gaan sien.
Dié dokter het bevestig dat Rikus ‘n asmalyer is.
Me. Botha se verloofde het verlede jaar tydens die inperking sy werk verloor en die gesin sukkel tans finansieel.
Ridge Times het die uitvoerende hoof van Evander Hospitaal, me. Madala Ndhlovu, om kommentaar genader.
“Ons sal die saak moet ondersoek en benodig die volle name van die pasiënte en die personeel en ‘n beskrywing,” het me. Ndhlovu gesê.
Sy het ook gesê hulle sal dié saak kan hanteer as me. Botha ‘n klagte by haar kantoor indien.
Me. Botha oorweeg dit om ‘n klagte te gaan lê, want sy wil die saak nie net laat gaan nie.



