Local newsNews

Onderwyser van Laerskool Kallie de Haas op Standerton tree af

Hy was aan die stuur van sake toe Kalies se jubileumblad om hul 40-jarige bestaan te vier, bekendgestel is.

Mnr. Herman van der Merwe met sy gevestigde Afrikaanse waardes, het na byna vier dekades in die onderwys, die tuig neergelê.

Laerskool Kalie de Haas het hom ingespan om vir gr. 6 en gr.7 die dinamiek rondom Afrikaans tuis te bring, hoewel hy ook in ‘n stadium Zoeloe, Tegnologie, Ekonomiese Bestuurswetenskap en Sosiale Wetenskap aan die leerders verduidelik het.

Dié boerseun wat op Vellingkraal, 40km wes van Standerton tussen die twee driwwe, Robertsdrift en Gladdedrift grootgeword het, se keuse vir ‘n lewensmaat het op me. Stefanie Hipkin geval.

Hulle het mekaar in 1983 by ‘n troue ontmoet en as daar moontlik boeremusiek gespeel is, sou niks hulle van die dansbaan weggehou het nie.

Die twee oud-leerders van Hoërskool Standerton het onderskeidelik by die Pukke en destydse NKP in Pretoria studeer.

Herman het ‘n BA met ‘n HOD voltooi en Stefanie haar onderwysdiploma.

Albei was in 1984 by Kalies met Herman wat van die Vaaldriehoek afgerokkel is.

Hy het vir drie jaar by Hoërskool Vanderbijlpark klasgegee en naweke tydens besoeke, moes hy bontstaan om te antwoord waarom hy nie op Standerton is nie.

Mentors soos mnre. Johnny Jansen en sy kleinneef, Pierre van der Merwe het die skaal in die guns van Kalies laat swaai.

Herman se ma was ook ‘n onderwyser.

Die Van Der Merwes het twee kinders, Marinus wat hom in sportwetenskap bekwaam het, en Marike, ‘n oudioloog.

“Ek het twee weke gelede, op die ouderdom van 65, oupa geword,” het Herman heel in sy skik gesê.

“Ek het ryp daarvoor geword.”

Marike het voet by stuk gehou dat ‘n familienaam nie vir die dogtertjie gegee sal word nie en Aleia sal haar doopnaam wees.

“Aleia beteken uitverkorene van God,” het Herman verduidelik.

Marinus is tans ‘n finansiële adviseur by ‘n versekeringsmaatskappy op Standerton.

Dit is relatief maklik om te bepaal hoeveel kinders deur sy hande is, die sommetjie is gemaak en uiteindelik is op meer as 1 500 leerders uitgekom.

“As jy met kinders in die klas oor hulle wortels praat, raak dit interessant,” aldus die onderwyser.

Die vraag is geopper of die 37 jaar uitmergelend of sieldodend was.

“Dit het in ‘n oogwink verbygegaan.”

Herman se twee mantras is eerstens om dit wat jy doen, goed en reg te doen en tweedens om te onthou dat jy waarskynlik nie ‘n tweede kans sal kry nie.

Hy was aan die stuur van sake toe Kalies se jubileumblad om hul 40-jarige bestaan te vier, bekendgestel is.

“Ek skryf my liefde vir Afrikaans toe aan ‘n onderwyser in my st. 8-jaar, mnr. Hennie van Buuren.”

Sy gunstelingouteur in Afrikaans is FA Venter, en hy kry nie eintlik tyd vir lees nie vanweë sy groentetuin, wat sy aandag in beslag neem.

“Alle bio-afbreekbare afval gaan komposhoop toe,” het hy gesê.

“Dit is nie net meer ‘n stokperdjie nie, dit het byna ‘n onderneming geword.”

Die groentetuin spog met patats, rissies, spinasie, tamaties, wortels, uie, mielies, aartappels, blaarslaai met genoeg pampoene om die volgende paar maande te oorleef.

Dié tuinier se wenslys sluit in die moontlikheid van ‘n oorsese vakansie en beslis ‘n besoek aan sy naamgenoot aan die kus.

“Ek wil my dorpie Hermanus, in oënskou neem.”

Herman gaan na aftrede geensins sy tyd verwyl om te tob oor hoe om besig te bly nie.

“Ek het geen noemenswaardige groot besluite geneem nie, maar wil geskiedkundige plekke opsoek, langs die viswater staan en definitief op ‘n plaas uitkom.

“Ek gaan besig wees met allerlei lekker dinge.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button