BETHAL – Mnr. Patrick Keyser (80), ‘n jarelange inwoner van Bethal, het onlangs sy tweede digbundel, Gedagtes, vrygestel.
Sy eerste digbundel, Mymeringe, het hy reeds in Januarie verlede jaar vrygestel en hy beplan om binnekort sy derde digbundel vry te stel.
Mnr. Keyser het op Kroonstad grootgeword en toe hy 16 was, van die huis weggeloop om by die lugmag aan te sluit.
Hy het vir jare in die bankwese gewerk en gedurende dié tyd baie rondgetrek.
Hy het vir 30 jaar as makelaar gewerk voordat hy gedeeltelik afgetree het.
“Ek het steeds kliënte, dit is mense wat al vir 20 of 30 jaar my kliënte is, dus doen ek steeds so bietjie werk as makelaar,” het mnr. Keyser gesê.
Sy tweede vrou, me. Miems Keyser (72) wat vir jare as haarkapper op Bethal gewerk het en met wie hy 30 jaar lank getroud was, is vier jaar gelede dood.
Sy het die hele tyd pyn gehad en volgens mnr. Keyser kon dokters nooit vasstel wat regtig fout was met haar nie en hulle kon niks vir haar doen nie.
Hy het na haar omgesien en haar opgepas totdat sy dood is.
Mnr. Keyser het na haar dood gedigte vir haar begin skryf omdat hy so baie na haar verlang.
“Ek het nostalgies begin raak na haar dood,” het hy gesê.
Sy kleindogter, me. Rijna Keyser, is op albei die digbundels se voorblaaie en sy het dit ook self ontwerp.
Mnr. Keyser het twee kinders, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders.
“Ek het nooit in kultuur belanggestel nie, want ek het altyd gewerk,” het hy vertel.
Dit is eers na sy aftrede dat hy bietjie stilsit en meer tyd op hande het, wat hy sy skryftalent ontdek het.
“Ek het eers net een gediggie vir haar geskryf en toe nog een en nog een en toe ek weer sien, het ek ‘n honderd gedigte geskryf en later was daar al 200 gedigte.”
Die radiostasie, Radio Kragbron, saai van mnr. Keyser se gedigte uit.
Hy geniet dit om te skryf of radio te luister en hy het al twee boeke geskryf, maar hy dink nie hy sal dit wil laat publiseer nie.
Hy het al kortverhale ook geskryf, maar hy verkies dit om eerder by gedigte te bly.
“Ek hou nie daarvan om boeke te skryf nie, dit is te lank.”
Hy het al vir sy kleindogter ook ‘n gedig geskryf en hy skryf graag oor alledaagse gebeure.
Mnr. Keyser het graag in die tuin gewerk toe hy vroeërjare op ‘n plot gewoon het, maar deesdae hou hy maar by potplante omdat hy nou in ‘n woonstel bly.



