Local newsNews

Linda maak feëtjie-wonderland op Secunda

Ouma is kreatief met handvlytwerk.

SECUNDA – Me. Linda Jansen van Rensburg het ‘n feëtjie-wonderland vir haar kleinkinders gebou.

Sy het sowat twee jaar terug die idée gekry om so iets te bou en het toe reeds begin om die items wat binne-in die voorstelling van ‘n feëtjieland in haar tuin is, bymekaar te maak.

“Ek het vier kleindogters en hulle word so vinnig groot, toe het ek gedink ek moet dit nou doen terwyl hulle nog klein is en dit sal geniet,” het me. Jansen van Rensburg vertel.

Haar kleindogters het haar selfs gehelp om van die items wat in die feëtjieland is te verf, hoewel hulle toe nie geweet het waarvoor hulle dit verf nie.

Sy het onlangs ‘n ‘feëtjie-partytjie’ vir haar kleinkinders gehou met lekker kos wat sy glo feëtjies eet en toe die feëtjieland vir hulle gewys.

“Hulle was verwonderd, die jongste een het net daar gestaan en staar,” het dié ouma vertel. Twee van haar kleindogters is vyf jaar oud en twee is agt jaar oud.

Een van die kastele in die feëtjieland is vanuit verpakkingsmateriaal gemaak en me. Jansen van Rensburg het kalbassies, takke en allerhande ander materiaal gebruik.

Die feëtjieland het selfs liggies in en lyk glo mooier in die aand wanneer die liggies aan is.

In haar vrye tyd geniet me. Jansen van Rensburg dit om naaldwerk te doen of om te verf.

Haar ma, me. Annatjie Kapp, wat al in haar 80s is, het vroeërjare geskilder en geverf en me. Jansen van Rensburg het haar verftalent by haar gekry.

Baie van die skilderye wat in haar huis hang, het sy self geverf.

Sy het op Bethulie in die Vrystaat grootgeword en na skool in Bloemfontein gewerk waar sy boekbestellings vir die universiteit behartig het.

Sy het laterjare vir twee jaar by Sasol op Sasolburg gewerk, maar het besluit om te bedank toe sy ma geword het omdat sy eerder voltyds ma vir haar twee kinders wou wees.

Toe die kinders groter is, het die gesin na Secunda verhuis en me. Jansen van Rensburg het twee winkels gehad.

Sy het op ‘n stadium klere gemaak vir ‘n vrou wat dit aan boetieks in die stad verkoop het.

Me. Jansen van Rensburg geniet dit steeds om kunstig te wees en is die afgelope paar jaar besig met ‘n vrou wat sy maak vanuit bottels en sement.

Dié skepping staan by haar en haar man, mnr. Schalk (Skille) Jansen van Rensburg se damhuis by Trichardtsfonteindam waar hulle graag seil en lede van die Hoëveld Seilklub is.

“Ons seil nie meer so gereeld nie, maar ons is nog lede by die seilklub en gaan gereeld dam toe,” het me. Jansen van Rensburg gesê.

Die skepping van die vrou by die dam bevat reeds 400 glasbottels en me. Jansen van Rensburg glo sy sal nog 200 bottels gebruik om dié skepping te voltooi.

‘n Goeie vriendin, me. Elmarie van der Walt, werk saam met me. Jansen van Rensburg aan die beeld van ‘n vrou by die dam.

Die glasbottels is gebruik vir die onderkant van haar lyf en hulle het draad, koerantpapier en sement gebruik vir die bokant van haar lyf.

Hulle beplan om dié skepping binnekort te voltooi.

Me. Linda Jansen van Rensburg se feëtjiewonderland wat sy onlangs voltooi het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button