Local newsNews

Marthie neem leisels oor by Residentia Palm-oord leefstylsentrum vir bejaardes op Bethal

Haar hooffokus is om die uitbreiding en ontwikkeling van gesondheidsondersteuning van Residentia Palm-oord te fasiliteer.

BETHAL – Me. Marthie van der Walt wat vroeër jare as aktiwiteitskoördineerder by Residentia Palm-oord Ouetehuis gewerk het en toe vir bykans twee jaar weg was, het onlangs die leisels by dié senior leefstylsentrum oorgeneem.

Sy is as algemene bestuurder by dié ouetehuis aangestel.

Me. Van der Walt het in 2019 bedank by Palm-oord en ‘n tehuis vir bejaardes oopgemaak nadat Residentia Palm-oord Ouetehuis se afdeling vir verswakte inwoners toegemaak het.

Hoewel me.Van der Walt se tehuis ‘n paar inwoners gehad het, het uitdagings rondom Covid-19 egter ‘n demper op die tehuis geplaas. Weens finansiële druk, was dit ‘n uitdaging om die voortbestaan daarvan te verseker.

“Dit was ‘n leerskool vir my,” het sy gesê.

Die meubels en toerusting wat die gemeenskap vir haar geskenk het vir dié tehuis, gaan sy nou by Residentia Palm-oord aanwend.

Me. Van der Walt is dankbaar om weer by Palm-oord te wees, want haar hart lê by bejaardes en kinders.

“Ek wil met bejaarde mense werk en elke dag tussen hulle wees. Ek glo die Here het ‘n doel met my hier by Palm-oord,” het me. Van der Walt gesê.

“Dit is ‘n groot verantwoordelikheid en uitdaging en ek gaan die hulp van die gemeenskap benodig om Palm-oord na hoër hoogtes te neem.”

Me. Van der Walt glo haar werk is die verskil wat sy daagliks in ander mense se lewens maak.

Mnr. Joe Duvenage, die hoof uitvoerende beampte van Residentia, het gesê die senior bestuur is dankbaar en opgewonde om me. Van der Walt weer as deel van hulle span te hê.

Haar hooffokus is om die uitbreiding en ontwikkeling van gesondheidsondersteuning van Residentia Palm-oord te fasiliteer.

Van die dienste wat binnekort by Residentia Palm-oord beskikbaar gaan wees, sluit kliniekdienste, tuissorgdienste en addisionele terapeutiese dienste in.

Me. Van der Walt het gesê haar deur staan altyd oop vir mense wat Palm-oord wil besoek en idees of planne wil deel om dié oord te verbeter.

“Bethal het ons sorgsentrum nodig en ons het nodig om ‘n huislike omgewing vir ons bejaardes te skep,” het sy gesê.

Van die projekte wat me. Van der Walt wil loods, is die ‘Neem ‘n Kamer aan’-projek en die ‘Neem ‘n Ouma aan’-projek.

Belangstellendes kan dan ‘n inwoner se kamer “aanneem” en stylvol versier of hulle kan ‘n ouma of oupa “aanneem ” en behulpsaam wees met die aankoop van maandelikse benodigdhede of tyd saam met hulle bestee.

“Met tyd kan ons soms meer gee as wat geld kan koop.

“As jy graag ‘n verskil hier by Palm-oord wil sien, kom wees die verskil.”

Me. Van der Walt wil graag weer boeresportdae by Palm-oord aanbied, asook ander lekker aktiwiteite vir die bejaardes.

“Ons inwoners is uitgehonger vir geselskap, veral ná die inperking toe niemand hulle kon besoek of aktiwiteite kon aanbied nie.”

Dit is me. Van der Walt se eerste prioriteit om ‘n omgewing te skep waar inwoners gelukkig, tevrede en veilig moet wees.

Vir meer inligting, of as jy betrokke wil raak, skakel me. Van der Walt by 017 647 2593 of suur ‘n epos na palmoord@residentia.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button