Local newsNews

Oom Rosier de Ville van Standerton laat leemte na afsterwe

Die afgelope paar jare was hy die koukusleier van die DA en het hom onderskei om tydens die DA se 2019-verkiesingsveldtog as ‘Mr Delivery’ beskryf te word.

Oom Rosier de Ville is in die ouderdom van 83 in die vroeë oggendure van Maandag 10 Mei in die Mar-Peh Mediclinic oorlede.

Hy het ‘n leidende rol op bykans enige vlak van die samelewing gespeel en was betrokke by organisasies, waar hy goed voorbereid vir vergaderings sou opdaag, die kerk, die ouetehuis en politiek.

Dié voormalige advokaat wat sy vaardighede geslyp en verfyn het by die destydse Van Heerden, Schoeman, De Ville en Boer sou veral die politieke woelinge hetsy, plaaslik of nasionaal, meemaak.

As parlementslid vir Standerton in die tagtigerjare het hy die belange van sy kiesafdeling vooropgestel.

Die afgelope paar jare was hy die koukusleier van die DA en het hom onderskei om tydens die DA se 2019-verkiesingsveldtog as ‘Mr Delivery’ beskryf te word.

Mnr. Athol Trollip, voormalige federale voorsitter, het die reëlings vir die byeenkoms by die Standerton Skouterrein waar ondersteuners, sakelui, inwoners en seniorburgers teenwoordig was, sodanig genoem.

Me. Angel Khanyile, DA-parlementslid, het hom as ‘n mentor beskou en as ‘n harde werker beskryf.

“Ons het altyd geweet ons kon op hom vir raad staatmaak,” het me. Khanyile gesê.

Me. Jane Sithole, leier van die DA in Mupmalanga, het beklemtoon dat sy juis haar posisie bereik het vanweë mense soos hy.

“Hy was ‘n mentor en algeheel verbind tot die belange van Suid-Afrika,” het me. Sithole gesê.

Sy het gesê dat sy afsterwe nie net ‘n leemte laat in familieverband nie, maar ook vir die party.

Oom Rosier en sy eggenoot, tannie, Monica het ‘n paar jaar gelede na die Kosmos Aftree-oord verhuis.

Hulle was 60 jaar lank getroud.

Ook by die ouetehuis was dit geen ongewone gesig om hom bedrywig te sien nie.

‘n Jarelange vriend, mnr. Pierre Schnetler, het veral drie kenmerkende eienskappe van hom uitgesonder.

“Hy was Standerton se wyse herder.

“Oom Rosier het ‘n wonderlike sin vir humor gehad.

“Hy was geseënd met ‘n intellektuele kapasiteit wat hy nooit misbruik het nie.”

Die gemeenskap het van vroegoggend nadat die nuus bekendgeword het, medelye en simpatie met die familie op ‘n WhatsApp-groep betoon.

Een boodskap het gelui: “Standerton sonder oom Rosier… amper onmoontlik om aan te dink’.

‘n Ander inwoner het die verlies soos volg verwoord: ‘Hy het ons almal met wysheid en deernis ondersteun, ons met ‘n fyn sin vir humor laat glimlag en tipies regsman, nooit ‘n steen onaangeroer gelaat oor ongeregtigheid nie’.

Hy word oorleef deur sy vrou, sy dogter Michelle en skoonseun Ferdie, sy seun Jacques en kleinkinders Carli, Ferdi, Mieke. Zanel, Chloé en Kelsey.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button