Local newsNews

Bethal-tiener sukkel al jare met been na ongeluk

Tienerdogter benodig geld om operasie te laat doen en kunsbeen te kry.

BETHAL – Abigail Botha (15) sien uit na die dag wanneer haar regterbeen afgesit gaan word.

Sy sukkel daarmee sedert sy in 2014 in ’n motorongeluk was.

Sy was saam met haar ouers, mnr. Louis en me. Mariëtte Botha, en boetie, Adriaan (8), een aand in 2014 vanaf Evander na hul huis op ’n plaas naby Leandra oppad toe die ongeluk gebeur het.

Die gesin was oppad huis toe vanaf ’n braai toe daar vir iets in die pad uitgeswaai is en die motor rotse langs die pad getref, en op die dak geland het.

Adriaan, wat destyds nog nie eers twee jaar oud was nie, was uit die voertuig geslinger en het in die pad te lande gekom. Hy is net betyds uit ’n aankomende motor se pad gered.

“My pa en ma het my gesoek, maar kon my aanvanklik nie sien nie, want die kar het bo-op my been en arm gelê.

“Ek het gevoel hoe my pa my uit die kar probeer trek,” het Abigail gesê.

Abigail Botha (15) wys hoe haar been vandag lyk na vele veloorplantings en operasies.

Volgens me. Botha het ’n motor toe vanuit Kinross se kant gekom.

“My man het vir hulle gewaai en geskree om te stop, maar die bestuurder het net aanhou ry en ons voertuig, met Abigail nog binne-in, getref,” het me. Botha vertel.

“Die kar het agt keer in die ronde getol met my binne-in,” het Abigail vertel.

Haar arm en been het teen die teer geskuur.

Mense van die nabye informele nedersetting het later kom kyk wat gebeur het en mnr. Botha het hulle gevra om hom te help om die voertuig op te tel sodat hy sy dogter kan uithaal.

Abigail Botha (15) se been nadat sy in ’n ongeluk was. (Foto: Verskaf)

Abigail het toe wakker geword en sy onthou hoe haar pa haar in sy arms vasgehou het en gesê het sy moet staan.

“Ek sal daardie oomblik nooit vergeet nie, ek het vir hom gesê ek kan nie staan nie,” het Abigail gesê.

“Ons het gesien hoe lyk haar been en gehuil. Abigail kon nie verstaan hoekom ons so ontsteld was nie,” het me. Botha vertel.
Toe het hulle eers opgemerk dat die mou van Abigail se japon wat sy aangehad het, vol bloed was.

“Ons het die japon uitgetrek en gesien daar is net velle en been by haar arm,” het me. Botha gesê.

Die ambulans het Abigail na Evander Hospitaal geneem waar die verpleegpersoneel haar been wou amputeer.

Sy is oorgeplaas na ’n hospitaal in Benoni waar dokters gesê het hulle gaan probeer om Abigail se been te red.

“Ons was ten gunste van dit, want ek meen, watter agtjarige kind wil haar been verloor,” het me. Botha gesê.

Abigail moes die volgende twee tot drie maande in die intensiewe sorg-eendheid van die hospitaal deurbring en was vir die volgende twee tot drie jaar pal in en uit die hospitaal soos wat sy met haar regterbeen- en arm gesukkel het.

Sy het die afgelope sewe jaar sowat 15 operasies aan haar been en twee aan haar arm, wat vele veloorplantings en skoonmaak van haar been ingesluit het, ondergaan.

Die Bothas het deur die jare agtergekom Abigail se regterbeen- en voet groei nie saam met haar linkerbeen- en voet nie.

Die dokters het gesê dit sal regkom, maar later het die Bothas besluit om Abigail na ’n ander dokter vir ’n tweede opinie te neem.

Van die baie dokters waar Abigail al was, het gesê hulle kan been vanuit haar rug neem en in haar been sit, maar dan is daar ’n 80% kans dat dié prosedure nie suksesvol sal wees nie en sy in ’n rolstoel sal opeindig.

Abigail Botha (15) se been soos wat dit vandag lyk na vele veloorplantings en operasies.

“Ons wil nie daardie kans neem nie en ’n ander dokter het gesê hy dink dit is die beste om haar been te amputeer want sy sal met ’n prostese normaal kan loop en beter lewensgehalte kan hê.

“Haar heupe en rug trek skeef omdat sy skeef loop en sukkel om te loop. Dit gaan net nog groter gesondheidsprobleme vir haar veroorsaak in die toekoms,” het me. Botha gesê.

Abigail loop permanent met krukke en/of ’n beenstut (moon boot) en het daagliks pyn in haar been en voet.

Sy is in ’n tuisskool by ’n instansie wat ’n klein groep leerders het omdat dit vir haar te moeilik sal wees om by ’n hoofstroomskool met trappe en ander uitdagings, aan te pas.

Abigail benodig sowat R84 000 vir die operasie om haar been te amputeer.

Die operasie kos R90 000, maar me. Botha het reeds R6 000 bymekaar gemaak.

Die gesin hoop dat genoeg geld teen Augustus vir Abigail se operasie ingesamel sal wees.

As jy Abigail wil ondersteun, of ’n bydrae wil maak, skakel me. Botha by 082 346 0175.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button