Moniteerders op Standerton se buurdorp oefen beheer uit oor vragmotors
Wat die storm- en rioolwaterdreine se skade aanbetref, is vragmotorbestuurders tot verantwoording geroep en daar is gepoog om herstelwerk te doen.
Die agteruitgang op Morgenzon is tot ’n groot mate gestuit.
Volgens mnr. Corné van Dijk, ’n sakeman, is die paaie op ons buurdorp weer begaanbaar.
Die Standerton Advertiser het in Maart die situasie geskets waar vragmotors die dorpse paaie so te sê onherstelbaar gemaak het.
Die chaos is nek omgedraai nadat Eskom moniteerders aangestel het, wat ’n wakende ogie hou oor waar vragmotorbestuuders parkeer.
Nadat Sanral aan die R35 gewerk het, is vragmotors deur die dorp herlei.
Dié vragmotors, wat se getal op 1 000 geraam is, het daagliks steenkool na Majuba Kragstasie vervoer.
’n Vergadering op 10 Maart tussen sakelui, inwoners, ’n wykraadslid en kontrakteur van Sanral, is opgevolg met ’n vergadering tussen rolspelers op 22 April. Sowel Sanral as Eskom, was by die vergadering teenwoordig.
Eskom het toe aangevoer dat die vragmotorlading verminder gaan word en ’n bestekopname gedoen word oor die beskadigde stormwaterdreine.
’n Dokument van die kragvoorsiener het gelui dat die klagtes van boere en gemeenskappe in ’n ernstige lig beskou is.
Vragmotorbestuurders wat skuldig bevind word, sou met ingang van 26 April geskors word tot bewys van wettige optrede gelewer kon word.
Mnr. Van Dijk se voorstel dat Eskom die vragmotorbestuurders moet ‘police’ , het inslag gevind en een voertuig is gestuur met moniteerders wat 24-uur-skofte werk.
Kontrakte sal beëindig word as nie by staande reëls gehou word nie.
“Dit help geweldig baie want vragmotors word beheer,” het mnr. Van Dijk op Vrydag 25 Junie gesê.
Die stofwalms is so te sê iets van die verlede en parkering vind ook nie meer in die woongebiede plaas nie.
Wat die storm- en rioolwaterdreine se skade betref, is vragmotorbestuurders tot verantwoording geroep en daar is gepoog om herstelwerk te doen.
Morgenzonners wat keelvol vir die agteruitgang was, is van mening dat ’n groot verskil merkbaar is.