Tinus Venter (73) oud-inwoner van Ermelo laat groot leemte in potspelkringe
Mnr. Venter het in 1998 die bekende kuierplek en potspelklub, Sleepers Rest, geopen. Dis hier waar sy liefde en passie vir potspel ontstaan het.
Mnr. Tinus Venter (73), ’n geliefde oud-inwoner van die dorp en ’n legende in die potspelkringe, is Sondag 27 Junie oorlede.
Die nuus van sy dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, met menigte huldeblyke wat op sosiale media ingestroom het.
Hy het is in 1948 in Somerset-Wes gebore en het sy skoolloopbaan by Hoërskool De Aar voltooi.
Vyf dae ná hy sy laaste matriekvraestel geskryf het, het hy op die ouderdom van 17 begin werk, waarna hy verder aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer het.
Mnr. Venter was ’n senior ingenieurstegnikus by Transnet en is later tot bestuurder bevorder.
Hy het sy vrou, Mariaan, in Kroonstad ontmoet en hul oudste seun, Martin, is hier gebore.
Sowat drie jaar na sy geboorte het die gesin na eMalahleni (Witbank) verhuis, waar hulle twee kinders, Jaco en Corli, ryker geword het.
In 1985 het die gesin na Ermelo verhuis.
Mnr. Venter het in 1998 die bekende kuierplek en potspelklub, Sleepers Rest, geopen. Dis hier waar sy liefde en passie vir potspel ontstaan het.
By Sleepers Rest het vriende familie geword en ’n vinnnig draai by die klub het in ure se geselsies verander.
Op sy stoel in Sleepers Rest het hy die respek van vele verdien en was hy altyd reg om te luister en saam te kuier.
Hy het in 2009 sy Springbokkleure vir potspel verwerf, toe hy as bestuurder vir die span wat by die wêreldkampioenskap deelgeneem het, gekies is.
Steeds lank nadat hy Sleepers Rest verkoop het, was hy by die Mpumalanga Cue Sports-organisasie betrokke.
Huldeblyke van oral oor het ingetsroom, lees meer hieroor in die volgende uitgawe van die Hoëvelder.



