Local newsNews

{Meningstuk} – As jou strepie getrek is

“Ons almal se strepie is getrek,” word soms versagtend gebruik vir mense wat iemand aan die dood afstaan, maar terwyl jy tussen die lewendes loop, laat logika seëvier!

“As die Here jou strepie getrek het…”

Hierdie holruggeryde uitdrukking met betrekking tot mense se sienswyse rakende Covid-19, is vir my een te veel!

Sedert die aanvang van Covid-19, het ek al met verskeie mense gesels wat aan dié ou sêding vasklou.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek was ’n groot voorstander daarvan totdat die dam geheel en al onder die eend se… jy ken mos die ou segswyse?

Ek wil soms vir mense, wat soveel verantwoordelikheid op die Here plaas vir hul persoonlike welstand, net vra om in ag te neem dat Hy waarskynlik vir jou ’n goeie en gesonde verstand ook gegee het.

Sou ons alles aan die noodlot oorlaat, moet ons dit mos as’t ware in alle fasette van ons bestaan toepas, nie waar nie?

Wanneer jy dan nou ’n kuggie ontwikkel, wat ontaard in brongitis en later longontsteking, moenie na die dokterspreekkamer of mediese kabinet hunker nie, jou strepie is dan immers reeds vooraf getrek?

Wanneer jy die pad oorsteek, moet ook nie links of regs kyk nie, laat jou optrede totaal afhanklik wees van die feit dat, ongeag jou aksies, jou strepie reeds getrek is.

“Ons almal se strepie is getrek,” word soms versagtend gebruik vir mense wat iemand aan die dood afstaan, maar terwyl jy tussen die lewendes loop, laat logika seëvier!

Persoonlik is ek onseker waar ek staan ten opsigte van die entstof, met my geluk trek ek die kortste lootjie.

Word ek ingeënt ontwikkel ek moontlik ’n allegiese reaksie, doen ek nie, is my imuunstelsel dalk nie sterk genoeg om die virus af te weer nie.

Waarom deel ek dit met jou? Omdat ek die dilemma waarin mense hulself bevind, verstaan, maar om dan die onus direk op die Here te plaas rakende jou besluit of besluit daarteen, is verregaande.

Wat my bowenal grief, is diegene wat oornag in viroloë en wetenskaplikes verander het.

Van toeka af het weinig die bestanddele van medikasie bestudeer of bevraagteken.

As jou dokter vir jou iets voorgeskryf het, het jy die ou pilletjies afgesluk en vertrou dat dit jou gesond sal maak, nou blyk dit of almal deel van die samesweringsteoretici is.

Oor samesweringsteorieë, my vraag aan die wat dié bog glo dat die wêreldregerings hierdie weldeurdagte komplot het om mense uit te wis, waarom sou hul vir ’n globale pandemie wag wanneer meeste mense paranoïes en op hul hoede sal wees?

Ek is seker hul sou meer subtiel te werk gegaan het as dit hul motief was.

Laastens is daar die klompie wat selfs, nadat daar al soveel sterftes aangemeld is, steeds nie in Covid-19 glo nie.

Help dit enigsins om met dié spulletjie te redeneer? Ek glo nie…

Wat ookal jou oortuigings, ek hoop van harte dat jy in dié beproewende tyd, die regte keuses sal maak rakende jou en jou gesin se veiligheid en welstand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button