Oud-Standertonner bevind haar in musikale milieu in Argentinië
Haar loopbaan as musiekonderwyser is vir die afgelope 10 jaar volgehou en in 2018 het sy haar in die Drakensberge bevind, dirigent en sangonderwyser van die Drakensbergse Seunskoor.
Sondra-Marié of Sonnie Sitz, ’n oud-Standertonner, se musikale belangstelling is vroeg reeds aangewakker.
Sy bly sedert Desember in Argentinië, gee musiekonderrig en is geskool in vokale aspekte, wat onder meer die regte asemhalingstegnieke, liggaamshouding, stemtoon en stemprojeksie behels.
Musikale interpretasie en musikale geletterdheid word vooropgestel.
Haar moeder, me. Arista van der Merwe van Standerton, het ’n paar geheime oor Sonnie se opleiding verklap.
Sonnie het as kleuter by Haas Das Kleuterskool ingeburger geraak en eers by Laerskool Standerton en daarna by Laerskool Kalie de Haas ingeval.
’n Besluit is in 2004 geneem om tuisonderrig te doen voordat sy by St. Mary’s Diocesan School for Girls in Pretoria studeer het, nadat musiek nie destyds as vak op Standerton aangebied is nie.
“Me. Joan van der Merwe was haar eerste musiekjuffrou op Standerton,” het Arista gesê.
“My dogter was haar hele lewe lank in ’n stimulerende musiekomgewing en albei oumas het ook musiekonderrig gegee.”
Sonnie het in 2010 matrikuleer en by St Mary’s en daarna op universiteit in Pretoria, het sy in kore gesing, wat wêreldwye kompetisies gewen het met Michael Barrett as leier.
Haar curriculum vitae, wat die een prestasie na die ander opstapel, is ’n mondvol.
’n BA-graad in musiek is in 2015 met lof geslaag met spesialiteitsgebiede in musiekopvoeding, -terapie en sang.
Sonnie het vir haar meestersgraad ingeskryf en ’n beurs ontvang om musiekopvoeding vir ses maande in Finland te studeer.
Bykomend tot haar spesialiteite het sy ook inheemse musiek onder die knie gekry.

Sy was ook in 2016 deel van ’n span wat teksboeke vir CAPS (Curriculum Assesment Police Statements) vir gr. 10 tot 12 saamgestel het.
Sonnie het as solokunstenaar in verskeie produksies opgetree, onder meer in La Traviata in 2017 en Handel se Messias, wat destyds deur Pietermaritzburg se Amateurmusiekvereniging opgevoer is.
Haar loopbaan as musiekonderwyser is vir die afgelope 10 jaar volgehou en in 2018 het sy haar in die Drakensberge bevind, dirigent en sangonderwyser van die Drakensbergse Seunskoor.
Met ’n lewensfilosofie wat wentel om ‘fun’ te hê terwyl jy onderrig word, is reeds meer as 100 studente opgelei, wat eksterne eksaminatore sodanig beïndruk het dat ’n gemiddeld van tussen 80% en 90% behaal is.
Sonnie se veelsydigheid is merkbaar in haar opleiding eerstens in die klassieke, Italiaanse styl, asook Duitse en Franse denkskole.
Die appel het nie ver van die boom geval nie, met ma Arista, wat ook musiekonderrig gee.



