VLU-vroue op Standerton trek pantoffels aan vir vergadering
“Die artikels wat sy die vorige jaar ingehandig het , het van haar bekwaamheid en kunstigheid getuig."
Die Kaalspruit-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) het op Dinsdag 10 Augustus by die Hervormde Kerk op Standerton byeengekom.
Hulle het die heengaan van ’n lid op 21 Julie, me. Jacoba Biermann, betreur.
“Ons gaan haar baie mis,” het die voorsitter, me. Marietjie Swart, gesê.
“Die artikels wat sy die vorige jaar ingehandig het, het van haar bekwaamheid en kunstigheid getuig.
“Haar man is ook ’n paar dae later oorlede.”
Van die taklede het die gesamentlike roudiens op 30 Julie bygewoon.
Vroue het pantoffels aangetrek om die voete tydens die vergadering warm te hou.
Hulle het ook die komende konferensie bespreek en almal was bereid om insette te lewer.
Tydens die demonstrasie, het me. Swart gewys hoe om servette mooi te vou.
Daarna het die vroue pamflette met voorbeelde en servette, om mee te oefen, ontvang.
Me. Swart het die waarde van ’n mooigedekte tafel met netjies en interessantgevoude servette onderskryf, waar die geleentheid ’n feesmaal word.



