Jayden Pieterse van Secunda kry nog ’n operasie
Ma van Secunda benodig geld vir kind se mediese onkostes en spesiale dieët.
Jayden Pieterse (5) het verlede week nog ’n operasie ondergaan.
Dié kleinding is al deur donker dieptes weens verskeie gesondheidsprobleme.
Jayden se probleme het begin toe hy twee jaar oud was en bloed opgegooi het.
Sy ma, me. Ame Fourie, het hom hospitaal toe geneem en na vele ondersoeke is hy met portale hipertensie gediagnoseer.
Dié toestand word veroorsaak deur lewersiekte en dit raak die portale are wat vanaf die ingewande na die lewer gaan.
Jayden se portale aar is seergemaak toe hy in 2016 op 36 weke gebore is en mediese personeel ’n voedingspyp in sy naeltjie moes plaas.
Dié besering het vir Jayden lewerprobleme asook ’n vergrote milt veroorsaak.
Me. Fourie het in Julie weer met Jayden na die hospitaal gehaas waar hulle agtergekom het Jayden se witbloedseltelling is te laag en wou nie optel nie.
Hy en sy ma moes 14 dae in die Wits Donald Gordan-hospitaal deurbring en nog ’n klep is verlede week in klein Jayden se liggaam vanaf sy milt na sy lewer ingeplant en sal help om sy bloedvloei te herlei sodat dit na al sy organe gaan.
Jayden moes in 2019 ook ’n klep kry.
’n Lewer-biopsie is onlangs op hom gedoen en volgens dokters is dit ’n wonderwerk dat sy lewer nog geen skade opgedoen het nie.
Jayden se milt vergroot steeds omdat een van die vorige operasies wat hy ondergaan het, onsuksesvol was.
Me. Fourie het gesê dit sal ’n absolute laaste opsie wees om sy milt te verwyder.
Dié opsie sal egter baie sensitief wees, omdat Jayden dan baie maklik sal siek word en moeilik sal kan herstel.
Jayden moet ’n spesiale dieët volg en eet glad nie rooivleis nie.
Hy moet ook drie keer daagliks aanvullings drink om genoeg yster in te kry.
“Dokters was al verbaas dat hy so lewendig is en speel, want hulle het gesê kinders wat sy toestand het, speel nie so nie,” het me. Fourie gesê.
Jayden moes al meer as nege operasies ondergaan en is elke keer getraumatiseerd as hy narkose moet kry en nog ’n operasie moet ondergaan.
“Dit is vir my ook baie erg elke keer as Jayden narkose kry. Ek huil elke keer as ek daar moet uitstap en hom so moet sien,” het me. Fourie gesê.
Me. Fourie het onlangs haar werk verloor omdat sy voltyds na Jayden moes omsien.
Sy sukkel om al die kostes verbonde aan Jayden se mediese problem te dek.
Van die voortdurende, weeklikse uitgawes wat me. Fourie moet betaal, sluit in Jayden se kos en spesiale produkte wat hy moet neem, brandstof na die hospitaal in Johannesburg wanneer Jayden operasies moet kry of vir ondersoeke moet gaan en hulle verblyf.



