Standerton Cobus Potgieter toor behoorlik met sampioene
Toe gebeur Covid-19 en die inperking, mense kon nie na die buiteland reis nie en werkgewers was katvoet oor nuwe aanstellings.
Mnr. Cobus Potgieter is enigiets van ’n ambagsman, navorser, ontleder, sampioenkweker tot oopkopdenker.
Cobus het sy vakleerlingskap as passer en draaier reeds in 1997 voltooi en Eskom was die aangewese keuse.
Die Potgieters het in 1991 van Kemptonpark hierheen verhuis.
Die kragreus en sy paaie het in 2013 geskei toe ’n geleentheid aangegryp is om in die Kongo as toesighouer by KCC, oftewel Komatsu-kopermyn, te gaan werk.
Sy vrou Ina, en die kinders Chanté, Llwellyn, Heinke en Juandré het agtergebly terwyl pa, oupa en sy swaer daar gewerk het.
“Dit is nie so lekker om so lank weg van die huis af te wees nie,” het Cobus gesê.
Die drie-jaar-kontrak se verloop is deur die val van die koperprys beïnvloed, daar was ’n verkiesing in die Kongo en die myn het produksie-aktiwiteite begin stop in die gebied, Kolwezi, waar hulle gebly het.
“Dit was Belgiese tegnologie, 60 jaar oud, wat verouderd was,” aldus Cobus.
“Dit het gevaarlik begin raak.
“Die geld in die Kongo was lekker, maar ’n mens verloor tyd saam met jou familie.
“Dit maak dit nie die moeite werd nie.”
Nuwe aanlegte is wel begin bou om koper goedkoper uit te voer.
Die verlange huis toe het geknel en hy het in 2016 ’n paar ‘shutdowns’ by Tutuka gedoen voordat hy as superintendent van die stoomketels by Kusile Kragstasie aangesluit het.
“Ek weekliks deurgery Kusile toe.”
Hy het in November 2019 by twee oud-kollegas, wat ’n kontrak by Eskom bekom het, begin werk.
Die kontrak het later deur die mat geval.
Toe gebeur Covid-19 en die inperking, mense kon nie na die buiteland reis nie en werkgewers was katvoet oor nuwe aanstellings.
“Ek het by 200 ophou tel aan die aantal cv’s wat ek uitgestuur het.
“Ek kon nie net so sit nie.”
Aanvanklik het hy sy skoonpa in sy onderneming van die huis af bygestaan en stelsels ontwikkel om dit te laat floreer, van fakture tot terme en voorwaardes af.
Cobus se kennis van tegnologie het hom handig te pas gekom in die nuwe inisiatief wat gewink het, die kweek van sampioene.
“Ek het navorsing oor die verskillende soort sampioene en hulle voordele begin doen en dit geweldig interessant gevind.”
Voor jy kon sê mes, was die gedagte aan ’n klein onderneming gevestig.
Cobus het begin met spore wat aanlyn gekoop is en van die vloeistofvorm kon plaatjies gemaak word, wat oorgroei op saadeiers, wat ‘colonise’.
’n Aftreksel is die uiteinde.
“Dit het my 10 maande geneem om die regte resep te kry.
“Net om ’n plaatjie uit te groei, neem twee weke.
“Ek moes iets ontwikkel wat plaaslik beskikbaar is.”
Mislukkings was daar wel.
“Dit breek ’n mens se spoed.”
Cobus kweek nou vier verskillende soorte sampioene en het ’n waglys van mense wat belangstel.
Die Potgieter-huis met die sewe honde, waarvan net Leila toegelaat word in die vertrekke, een papegaai en sewe budjies sorg vir die agtergrondgeluide.
Cobus monitor die groeiproses noukeurig op sy selfoon en die televisieskerm word ook ingespan vir ander take.
Die huis spog met ’n laboratorium, humiditeit behoorlik onder beheer en ander vertrekke soos die ‘fruiting corner’ in die motorhuis, waar vogtigheid en sterilisasie van kardinale belang is.
“Om toerusting in te voer, is groot geld,” het dié planmaker oor die vogsproeier gesê.
Llwellyn het sy pa met dié bouwerk gehelp.
Voorsorgmaatreëls is in plek om bakterie weg te hou.
Met nagenoeg 20 sakke in spesiale plastiek wat vogtig gehou word, word ’n doelwit gestel.
“‘n Mens moet ten minste drie maal uit een sak kan pluk,” het Cobus bygevoeg.
“Ek kan nie nou groot gaan nie vanweë die infrastruktuur op die dorp.”
Niks, maar niks, word weggegooi nie, poeier word van die oestersampioene gemaak.
Die een vraag wat hy kort-kort moet systap is:
“Is dit ‘magic mushrooms’? ”
Allermins, die betowering lê in ’n doelmatige, beplande visie om ’n boer te word.






