Secunda-boorling Von Vilon skryf eerste digbundel
Digter gebruik sy talante vir bediening.
Mnr. Danie Viljoen het onlangs sy eerste digbundel, Gedagte Duister, vrygestel.
Dié Secunda-boorling skryf onder die naam Von Villon en werk tans aan sy eerste reeks kinderboeke, Sonstraalprinses.
Mnr. Viljoen se gedigte is kort en hy hou daarvan om ’n oomblik in sy gedigte vas te vang.
Bekende Suid-Afrikaanse digters het hom al gekomplimenteer op sy digwerk en hy het al verskeie kompetisies met sy digkuns gewen.
Dié kompetisies sluit in die GHA (Genootskap vir Handhawing van Afrikaans) en Ink Skryf in Afrikaans en hy het ’n toekenning as Opkomende Digter vir 2020 van Padlangs Pouveer ontvang.
Sy gedigte asook stories wat hy vertel word al die afgelope agt maande op ’n Namibiese radiostasie, Elan Global Radio, op ’n program, Woordevlegsels, uitgesaai.
Mnr. Viljoen werk tans aan opnames van sy eie nuwe radioprogram, Weet Wie Jy is in Christus, wat oor so drie weke sal begin op Elan Global Radio.
Sy stories in die program Woordevlegsels, is komedies en hy het baie verskillende karakters wat hy in dié program noem.
In dié program gaan hy ook onderhoude met bekende skrywers voer.
Hy is opgewonde oor dié nuwe hoofstuk in sy lewe nadat hy so paar jaar gelede sy dwelmverslawing oorwin het en ook ontdek het wie hy regtig is.
Hy het op Secunda grootgeword en ná skool eers chemiese ingenieurswese en wiskunde studeer, maar het later opgeskop toe hy besef het dit is nie vir hom nie.
Mnr. Viljoen was kort na sy universiteitsjare terug op Secunda en het sy kursusse in sweiswerk-inspeksie gedoen en as sweiswerk-inspekteur op verskeie dorpe gewerk.
“Ek het gesukkel met my identiteit en nie geweet wie ek is nie,” het hy gesê.
Dit is in dié tyd wat hy na dwelms gegryp het en in 2010 het sy een long platgeval en dokters moes ’n stuk van sy long uitsny.
Mnr. Viljoen het egter na dié terugslae in sy lewe weer opgestaan en ná 18 maande in ’n rehabilitasiesentrum, het hy sy identiteit in Christus ontdek.
Sy bediening, Weet Wie Jy is, is in dié tyd gebore.
Hy bemoedig daagliks mense met sy stemboodskappe wat hy deur middel van WhatsApp uitstuur.
Hy glo die Here het hom geroep vir dié bediening en ook om te skryf en stories te vertel.
“Ek was verslaaf aan die gevoel van verlief wees en wie ookal die nuutste vrou in my lewe wou hê ek moes wees, daardie persoon was ek.
“Aan die einde van die dag kan ’n mens net soveel van jouself gee.
“Ek het myself verloor en moes na dit alles myself weer ontdek en uitvind wie is ek en waarvan hou ek,” het mnr.Viljoen gesê.
Hy glo die Here het hom gehelp om te herstel, homself te ontdek en om met die nuwe bediening te begin.
“Ek het al geval in my lewe en weer opgestaan en deur dit alles het die Here my nooit gelos nie,” het hy gesê.



