Local newsNews

Secunda-baba met Covid sterk tuis aan

Ma is dankbaar vir geskenk op haar verjaardag.

Die beste geskenk vir me. Jeanine Maree op haar 33ste verjaardag was toe sy op Donderdag, 9 September, gehoor het sy en haar baba, Eon, kon huis toe gaan na ’n week in die Mediclinic Highveld.

Me. Maree het die meeste daarna uitgesien om haar twee-jarige dogtertjie, Chanine, wat nog te klein is om te verstaan hoekom mamma en boetie nie by haar en haar pa is nie, weer te sien.

Dié ma en die drie-maande-oue Eon moes agt dae in dié hospitaal deurbring nadat beide met Covid-19 gediagnoseer is.

Me. Maree en haar man, mnr. Hein Maree, het albei op Woensdag, 25 Augustus vir hul eerste Pfizer-inenting gegaan en die Vrydag daarna (27 Augustus), het vriende met hul ses-maande oue baba by die gesin gekuier.

“Ons vriende het ons die volgende dag laat weet hul baba het Covid-19 en my man het ook die Saterdag begin sleg voel,” het me. Maree vertel.

Mnr. Maree het vir ’n Covid-19-toets gegaan en positief getoets. Me. Maree en Eon het ook ’n paar dae later begin sleg voel en vir die toets gegaan en ook positief getoets.

Me. Maree het vir Eon ’n dag ná hulle positief getoets het, na die ongevalle by Mediclinic Highveld geneem omdat hy die vorige nag nie lekker was nie.

“Hulle het x-strale geneem en gesien sy longe funksioneer nie 100% nie en het hom dadelik op suurstof gesit.”

Eon was vir die meeste van die tyd op suurstof, maar het Donderdag, op sy ma se verjaardag, begin beter lyk en die dokter het besluit hulle kan huis toe gaan.

“Ek is bly ons kan uiteindelik huis toe gaan en by die res van ons gesin wees. Dit is nie lekker om jou baba so te sien nie en ’n mens raak maar moedeloos,” het me. Maree gesê.

Dit is al die tweede keer wat sy dae in die hospitaal met ’n siek kind moes bestee het.
Chanine (2), het in Desember reeds positief getoets vir Covid-19 en was vir vier dae ook in Mediclinic Highveld.

“’n Mens bid teen die goed en dan gebeur dit in elk geval, dit laat ’n mens maar vrees.

“Dit was verskriklik om vir Chanine so te sien.

“Sy het gesukkel om asem te kry en het vir drie dae niks geëet of gedrink nie en sy is nog klein.”

Die egpaar het in Desember, toe Chanine Covid-19 gehad het, haar om 20:00 een aand na ongevalle gehaas nadat hulle nie haar koors gebreek kon kry nie.

Sy het heeltyd koue koors en warm koors gehad.

Die hospitaalpersoneel het bevind dat sy mangelontsteking gehad het wat deur Covid aangehelp is.

Sy en me. Maree was dadelik in ’n isolasie-kamer in die hospitaal geplaas nadat Chanine positief getoets het.

Me. Maree het toe negatief getoets, maar het heeltyd by Chanine in die hospitaal gebly.

Die gesin moes toe vir nog 10 dae in isolasie bly.

Me. Maree het gesê hulle vat juis nie die kinders saam winkels toe of na enige ander plekke nie om veilig te wees.

Mnr. Maree hoes steeds baie en sy suurstofvlakke is nog nie 100% reg nie.

Hy wou egter nie hospitaal toe gaan nie omdat iemand by Chanine moes bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button