’n Plaaslike sjef, mnr. Chris van de Vyver het al vir gesiene gaste kosgemaak toe hy vroeërjare by die Langtry Manor Hotel in Bournemouth in Engeland gewerk het.
Dié hotel was al te sien op die Britse realiteitsprogram, The Hotel Inspector, en mnr. Van de Vyver het daarin gespesialiseer om 5 ster-disse te maak en voor te sit.
Mnr. Van de Vyver het vir vyf jaar by dié hotel gewerk voordat hy dit verruil het om vir die Britse weermag as sjef te gaan werk.
“Ek was gelukkig by die Langtry Manor, maar was op soek na nuwe uitdagings toe die geleentheid om weermag toe te gaan op my pad gekom het,” het mnr. Van de Vyver gesê.
“Dit was baie interessant, ek moes drie keer daagliks vir 1 500 soldate kosmaak.
“Dit was ook ’n groot aanpassing. Ek moes toe smaaklike kos maak in groot hoeveelhede, want ek moes vir die offisiere ook kos maak.”
Mnr. Van de Vyver moes onder begin met sy loopbaan as sjef.
Hy het ná hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Driehoek voltooi het, Hotelbestuur by ’n instansie in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gaan studeer.
Mnr. Van de Vyver het ná sy studies van drie jaar by die Aldam Vakansie-oord naby Ventersburg in die Vrystaat begin werk waar hy eers die praktiese deel van sy studies moes klaarmaak en toe permanent by dié vakansieoord aangestel is.
Hy het later Suid-Afrika vir Engeland verruil en goeie ondervinding opgedoen terwyl hy by die Langtry Manor gewerk het.
Hy het eers as portier en later as gourmet-sjef en sjef de partie (’n sjef wat in beheer is van ’n sekere kosafdeling) gewerk.
Ná ’n jaar en ’n half in die Britse weermag, het mnr. Van de Vyver besluit om na Suid-Afrika terug te keer toe sy visum verval het.
Hy het toe by ’n vakansie-oord op Hartbeespoortdam begin werk.
Dit was terwyl hy by die Ostrich Manor by Hartbeespoortdam gewerk het, waar hy sy vrou ontmoet het.
Sy het ook in die gasvryheidsbedryf gewerk en die paartjie het later na Secunda verhuis waar sy besluit het om haar as onderwyser te bekwaam terwyl mnr. Van de Vyver in die gasvryheidsbedryf gebly het.
Hy het vir ’n plaaslike konferensiesentrum gewerk en die eienaars sou ’n gastehuis open, maar toe die Covid-19-pandemie Suid-Afrika verlede jaar getref het, het die beleggers onttrek en die planne het verander.
“Ek moes dringend aan iets anders dink en het toe met die weeklikse etes begin.”
Hy het toe weekliks ’n spyskaart van huishoudelike kos en tipiese kos wat mense vir aandete maak, uitgestuur en sodoende die pot aan die kook gehou.
Hy het intussen sy eie onderneming, Esculency, geregistreer en buiten die weeklikse spyskaart, maak hy ook peuselhappies en kos vir spesiale geleenthede en hy kan koeke ook bak en versier.
“My vrou is eintlik goed met die koeke, maar ek maak meestal kos in die aande vir ons huis.”
Mnr. Van de Vyver hou daarvan om lamsvleis en kappokaartappels te maak en dit is ook sy gunsteling dis om te eet.
As hy tyd het, maak hy graag sy eie pasta eerder as om die pastas in die winkels te koop.
As hy nie agter die kospotte staan of tyd met sy gesin bestee nie, kweek hy bonsai-boompies of werkskaf in sy groentetuin.




