Kiewiet Bosman van die Georgies verhuis na Meyerton
Hoewel alombekend as Kiewiet, die bynaam wat haar pa haar gegee het omdat sy glo nie kan stilsit nie, het sy wel by die Georgies vir byna ’n kwarteeu stilgesit.
’n Vrou van Standerton het na 24 jaar die tuig by Hoërskool George Hofmeyr neergelê.
Me. Kiewiet Bosman het op 1 Desember 1996 as boekhouer by dié skool aangesluit en nou wag die Vaaldriehoekse dorp, Meyerton, op haar.
“Dit is ’n mooi, skoon en oop dorp,“ het Kiewiet gesê.
Hoewel alombekend as Kiewiet, die bynaam wat haar pa haar gegee het omdat sy glo nie kan stilsit nie, het sy wel by die Georgies vir byna ’n kwarteeu stilgesit.
Kiewiet het in 1975 aan Hoërskool Standerton gematrikuleer en is ’n jaar later met Hennie in die Klipkerk op Standerton getroud.
“Ek het hier grootgeword en behalwe vir ’n afwesigheid van vyf jaar, was Standerton al die jare my tuiste.”
Uit haar huwelik is drie seuns en een dogter gebore, wat ouma nou op ’n ander plek kan besoek.
Die oudste seun Inus, woon in Kemptonpark, Kobus die tweede oudste, het tussen Balfour en Greylingstad nesgeskop, Elizma bly op George en die ander seun, Hennie woon op Standerton.
Kiewiet spog met ses kleinkinders, vyf seuns en een dogtertjie.
Hoogtepunte in haar lewe was daar vir dié vrou wel.
“My troudag en die geboorte van my kinders en kleinkinders was spesiale oomblikke.”
As tuisteskepper het sy haar kinders en man se belange vooropgestel en die arbeidsmark eers in 1987 betree.
Die pos uiteindelik by die Georgies het reg in haar kraam gepas.
“Ek was lief vir my werk en het dit geniet.“
Haar man, wat lank in die konstruksiebedryf was, het haar in 2019 ontval.
Kiewiet met haar praktiese en onverstoorde aard, het begin oppak en opruim.
“Ek kan nie glo hoeveel gemors ’n mens opgaar nie.”
Sy sal moontlik voor die voet begin weggooi, maar die Deon Meyers gaan beslis saam.
Verhuising geskied die 18de September en getrou aan die Standerton-tradisie, het sy, op ’n koue oggend, met ’n tikkie ironie afgesluit:
“Die somer is eers hier as die skou verby is.”



