Ouma Grace en kleinseun Herman van Standerton loop grondpad
Dié amperse tiener het ’n vaste afspraak elke eerste Woensdag van die maand by die Charlotte Maxeke Hospitaal.
Herman Bronkhorst (15) van Standerton ly aan ’n ongeneeslike siekte.
Hy is op vierjarige ouderdom met ‘Duchenne muscular dystrophy’ gediagnoseer, ’n genetiese kwaal wat gekenmerk word deur progressiewe spierdegenerasie en swakheid.
Ouma Grace en oupa Willem Bronkhorst, albei pensioenarisse, is die voogde van Herman en sy sussie, Mia.
“Ek het ’n mediese program op ’n televisie-betaalkanaal gekyk en wat genoem is, het my tot nadenke gestem,” het Grace gesê.
Ouma het vertel dat Herman se destydse vordering by die kleuterskool nie na wense was nie, en uiteindelik het me. Dalena Marx van Hompie Kedompie Kleuterskool die nodige reëlings vir ’n mediese opinie getref.
Dié oorerflike siekte kom net by seuns voor, vanaf die vroulike bloedlyn.
Herman het vroeg reeds die waarskuwingstekens van Duchenne getoon, byvoorbeeld probleme met balans, stadige ontwikkeling, konsentrasieprobleme en gereelde vallery.
“Toe hy die eerste keer moes begin om te kruip, het hy eerder gelê en vorentoe gerol,” het Grace bygevoeg.
“Hy het eers op drie jaar begin loop.”
Volgens Grace, is kuitontwikkeling ’n ander teken, waar kuite abormaal groot word.
Herman moes gereeld na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg geneem word vir kortisoonbehandeling.
Standerton Hospitaal is nie toegerus om die kardiomonitering en neuro-muskulêre toetse te doen nie.
Die kortisoonbehandeling is nou gestaak en aanpassings aan sy dieet is gemaak, byvoorbeeld die inname van vars vrugte en vesel.
Ouma en kleinseun deel ’n kamer omdat hy gereeld deur die nag op sy dubbelbed omgedraai moet word, of ’n skoon doek benodig.
Herman raak weer dadelik aan die slaap as hy in die nag gehelp word, maar ouma sukkel soms.
Die plaaslike hospitaal skenk maandeliks vier pakke doeke, wat nie volledig aan sy behoeftes voldoen nie.
“Ek moes hom gereeld vitamienstropies ingee, veral nadat die pandemie uitgebreek het,” het Grace ook gesê.
Seriti het in 2017 ’n elektroniese rystoel geskenk waarvan die batterye gerieflik 4km kan haal.
Bloedtoetse is ook onlangs gedoen, waarvan op die uitslae gewag word nadat hy vir nierstene behandel is.
Herman het ’n lewendige belangstelling in feitelike televisieprogramme, veral daardie van ’n mediese aard.
Hy speel ook graag speletjies op sy selfoon en PlayStation 3 is ’n gunsteling.
“Ek hou baie daarvan om na ‘How It’s Made’ op televisie te kyk,” het Herman gesê.
Hy het onomwonde laat blyk dat daardie doef-doef by musiek hom geval.
Dié amperse tiener het ’n vaste afspraak elke eerste Woensdag van die maand by die Charlotte Maxeke Hospitaal.
Dit beteken gewoon dat die ryery van Standerton omstreeks 6:00 moet begin om voor 10:00 in Johannesburg te wees, betyds vir die eerste toetse.
Herman se hart moet gereeld gemonitor word en teen 16:00 is al die toetse gewoonlik afgehandel.
Ouma Grace het ’n versoek aan die publiek gerig vir enigeen, wat op 6 Oktober beskikbaar sal wees om hulle hospitaal toe te neem in ’n voertuig waarin ’n rolstoel sal pas.
Skakel 082 359 8969 om die nodige reëlings te tref.
“Ek versorg hom soos wat hy my nodig het,” het Grace mee afgesluit.




