Gerrie Keen van Secunda stel eerste digbundel vry
Myner skryf oor sy gevoelens in gedigte.
Mnr. Gerrie Keen se heel eerste digbundel, Reis deur my Gedagtes, het in die begin van Augustus die lig gesien.
Dié digter wat voltyds op die myne werk, skryf al gedigte sedert sy kinderdae.
As kind het hy op verskeie plekke gewoon omdat sy ouers baie rondgetrek het weens sy pa se werk, wat ook ’n myner was.
Mnr. Keen was genoop om van ’n jong ouderdom reeds die pa van sy ouerhuis te wees toe sy pa die gesin verlaat het.
Hy is op 16 uit die skool om voltyds op die myn te werk om vir sy ma, susters en broer te sorg.
Hy is later weermag toe vir sowat drie jaar en het daarna weer op die goudmyne gaan werk.
Mnr. Keen woon al 14 jaar op Secunda en het die goudmyne vir die steenkoolmyne verruil.
As hy ’n idee vir ’n gedig of ’n kort storie kry, moet hy dadelik pen en papier gryp en dit neerskryf.
“Ek moet dit skryf terwyl ek in daardie gemoedstoestand is wanneer ek die idee kry,” het mnr. Keen vertel.
“As ek dit eers later neerskryf, voel dit vir my of die gedig of storie sy trefkrag verloor.”
Die gedigte in mnr. Keen se bundel doen die naam van die bundel volstand en neem letterlik die leser op ’n reis van mnr. Keen se lewe en gedagtes.
Hy skryf onder meer oor die liefde, sy kinderjare en sy ouers.
Sy digkuns is vir hom ook ’n manier om angstigheid te hanteer.
In sy vrye tyd hou mnr. Keen homself besig met rekenaars om meer van Excel en programering te leer.
Hy geniet dit ook om te lees, of ’n fliek te kyk.



