Local newsNews

Valies kon vir 35 jaar peil trek op koshuisvader

Hulle was meestal kinders wat op ’n vroeë stadium reeds met die gereg gebots het, waarna hul na die boomryke, onderwysstruktuur by die Valies verwys is.

Mnr. Johan van Zyl van Standerton het diep spore by Vaalrivierskool getrap nadat hy vir 35 jaar koshuisvader was.

Met sy vrou, Hannetjie aan sy sy, is aan leerders by die voormalige nywerheidskool in ’n gedissiplineerde omgewing leiding gegee.

Hulle was meestal kinders wat op ’n vroeë stadium reeds met die gereg gebots het, waarna hul na die boomryke, onderwysstruktuur by die Valies verwys is.

“Hulle kruip diep onder jou vel in,” het Johan gesê.

“Sommiges is reeds hardebaarde as hulle in die klaskamers sit.”

Die Van Zyls het in 1978 na Standerton verhuis waar sy pa en broer vir die voormalige Standerton Stadsraad gewerk het.

Hoewel Johan met ’n ambagsdiploma in motorwerktuigkunde kon spog, het hy by die destydse Transvaalse Provinsiale Aministrasie aangesluit en vir drie jaar as verkeersbeampte diens gedoen.

April 1980 is die datum waarop hy ’n jong vrou vir haar bestuurderslisensie moes toets, op die grondpad, Lombaardstraat.

“Haar man het by Vaalrivierskool gewerk en hulle was op soek na ’n werktuigkundige om onderwys te gee,” het Johan ook gesê.

Dit was destyds nie nodig om ’n onderwysdiploma te hê om klas te gee nie.

“Ek was geheel en al rou vir die onderwys, maar die hoof, mnr. Hennie Fox, het my onder sy vlerk geneem.

“Ek kon my praktiese kennis oordra en het die teoretiese gedeelte bygewerk.”

Na al die jare is Johan oortuig dat ’n onderwyser vanuit sy hart voor ’n klas moet staan, daardie holruggeryde term, passie, vir sy werk moet hê.

Dit was glad nie ongewoon om met vakansies 3:00 op te staan om die leerders op die Trans-Natal huis toe te stuur nie, of om presies om 21:21 hulle op die perron te gaan ontmoet nie.

“Daar was soms chaos by die ouerhuise en ons het van nuuts af na die vakansie begin.”

Vir ’n man wat dinge óf swart óf wit is, is berekende risiko’s soms met die leerders geloop en ’n stel of twee is afgetrap.

Die hormone wat soms hoogty gevier het, moes ook hanteer word.

“Ek kan ’n boek skryf hoewel ek baie ‘sports’ gehad het.”

Na ’n oomblik se denke, het hy bygevoeg:

“Baie trane ook want dit was nie maklik elke dag nie.”

Johan en Hannetjie se twee dogters, Mariëtte en Suzette het grootgeword by die Valies.

Vandag is hul self ouers met hul eie spruite.

Op die vraag of ’n spesifieke persoonlikheidstipe nodig is om met arm kinders, uit gebroke familes te werk, het Johan onomwonde gesê dat jy geroepe moet wees.

Hannetjie het terloops genoem van die wêreld se geduld wat nodig is.

Sy het soms tot 1:00 gesit om verflenterde klere heel te maak.

Seuns het ook die koshuis self skoongemaak, vloere poleer en skottelgoed gewas.

Afhangende van die aantal, het die kombuis by geleentheid twee eetsessies gehou per maaltyd.

Johan het oor die jare vier motorfietse gehad, braaikuikens onder ’n afdak grootgemaak en gehengel.

Die laaste fiets was ’n bloedrooi BMW R7 waarop Hannetjie soms agterop aan die slaap geraak het.

Hy was ook vir 10 jaar die president van die motorfietsklub, Light Riders.

’n 2017-vakansie toe die woonwa ingespan is om al langs die Tuinroete tot by Lambertsbaai en Strandfontein te toer, bly hom by.

Johan se paaie en sy skyf, die Chesterfields, het in 1993 uiteen geloop nadat hy alles onder die son probeer het om op te hou rook.

Dié wedergebore Christen skryf dit aan Goddelike ingryping toe.

“Ek was deurtrek van nikotienvergiftiging.”

Daarna kon hy die daggadampe ’n myl ver in en om die koshuis ruik.

Johan en Hannetjie se geloof is vir hul ononderhandelbaar en albei is lidmate van die Replika Kerk op Standerton.

Hulle het hul intrek in Oktober 2016 in ’n meenthuiskompleks op die dorp geneem.

Die man wat bely het dat sy hart so groot soos ’n kopspeldpunt is. het afgesluit met:

“Dit was ’n ongelooflike voorreg om by die Valies te werk.

“Ek het my alles gegee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button