Local newsNews

Nelis Stroebel van Standerton sterf onverwags

Daar sou geen gedenkdiens, begrafnis of roudiens wees nie om aan Nelis se wense gehoor te gee.

Wat die begin van groot dinge moes wees, het in tragedie omgesit.

Mnr. Nelis Stroebel van Standerton het voor ’n lewensomkerende besluit oor hulle toekoms en sy onderneming gestaan.

Nelis kon op Saterdag 25 September omstreeks 8:00 nie uit sy slaap wakkergeskud word nie.

Volgens sy eggenoot, Iana, was die gesin by sy neef en hulle gesin op Vygeboomdam vir die langnaweek.

“Nelis, gaan jy nie opstaan vir die rugby nie?” het sy gevra.

“Ek het gehoop dat hy ’n slaappil gedrink het.”

Hulle het vroeër die nag nog met mekaar gekorswil oor wie nou eintik snork en op die sy moes draai.

Mnr. Nelis Stroebel, sakeman, is skielik oorlede. (Foto: Verskaf)

Sy vrou het sy pols gevoel en gevoel-hoop dat hy nog warm was.

Iana het haar dogter Carlie en haar vriend, wat oor mediese agtergrond beskik, geroep om te kom kyk.

Die trauma het begin afspeel.

’n Vrouedokter wat daarna geskakel is, kon hom nie dood verklaar nie weens administratiewe regulasies.

Die Stroebels moes noodgedwonge wag op ’n ambulans, wat nie van die besige Ermelo kon kom nie.
Bethal-ambulansdienste het net na 14:00 opgedaag.

Nelis se neef en sy gesin het die vorige aand vertrek en die Standertonners geleentheid gegee om heeltemal te ontspan.

Uit die aard van Nelis se werk op die dorp, was wegbreekgeleenthede maar min.

“Ek het vir almal gesê om niemand te laat weet nie, want dalk word hy wakker,” het Iana onthou.

Begrafnisdienste is gekontak om die liggaam te kom haal.

’n Oorskot mag nie in ’n ambulans vervoer word nie.

Van die herinneringe wat oorbly, is Rolo en Beulah, die worshondjies, wat hom altyd na werk ingewag het.

Nelis het heel pittig en liefdevol opgemerk dat die troeteldiertjies asseblief nie voor hom moes doodgaan nie.

Die egpaar het mekaar destyds ontmoet by ’n eerstejaarskamp van die voormalige Onderwyskollege van Pretoria.
Nelis, ’n senior, het die eerstejaartjie raakgesien, wat ’n kêrel gehad het, en op sy trouvrou besluit.

“Sien jy daardie meisie, ek gaan eendag met haar trou,” het Nelis laat val aan iemand.
Albei het hulle suksesvol in die onderwys bekwaam en leerders by Laerskool Hoëveld en Laerskool Goedehoop onderrig.

Nelis, die entrepreneur, was kennelik in sy hart nog steeds die onderwyser.

Oproepe van simpatie en meelewing het ingestroom nadat die nuus bekendgeword het.

“Juffrou weet nie watter impak hy op ons lewens gehad het nie,” het een oud-leerder gesê.

Hy het gewigstoot afgerig tot by verskeie Suid-Afrikaanse kampioene en op sy dag Cravenweekrugby meegemaak en aan naellope deelgeneem.

Hy het ’n rekord in die 100m opgestel.

Die Stroebels, Nelis en Iana, by ’n troue afgeneem. (Foto: Verskaf)

Die Stroebels se dogters Carlie en Aninke, is deur die skoolbanke op Standerton en Iana gee onderwys by Laerskool Standerton.

Wou hy dalk graag ’n seun gehad het?

“Die Here het gekyk en gesien daar is ’n man in hierdie huis,” het Nelis gesê.

Nelis en sy sus, Lori Swanepoel wat op die dorp woon, het ’n hegte band gedeel sowel as met sy twee broers, Rinus en Innes.

Die Stroebels moes ook nie te lank gelede die afsterwe van hul moeder, ouma Marietjie Stroebel, verwerk.

Daar sou geen gedenkdiens, begrafnis of roudiens wees nie om aan Nelis se wense gehoor te gee.

Die uitgebreide familie het bloot bymekaargekom, moontlik ’n groot vleisbraai gehou, gesels en hom onthou.

’n Plaaslike radiostasie het sy gunstelinge uitgesaai as blyk van herinnering.

“Die blyke van ondersteuning en omgee is en was ongelooflik,” het Iana mee afgesluit.

Hy word oorleef deur sy vrou, sy dogters en ’n gemeenskap wat die man, gewoon agter die toonbank in sy onderneming, sal onthou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button