Baba van Secunda moet hartoperasies ondergaan
Ouers vra vir hulp met vier maande-oue dogtertjie.
Liane Roux (vier maande) is met ’n hartdefek gebore en gaan heel moontlik binnekort ’n ope-hartoperasie moet ondergaan.
Sy tel te stadig gewig op en het die afgelope drie maande net 1kg opgetel.
Liane is in Bethal Hospitaal gebore en die hartdefek is nie tydens haar geboorte opgetel nie.
“Ons het nie dadelik agtergekom iets is fout met haar nie,” het haar ma, me. Ashley Roux (26) gesê.
“Ek en sy is huis toe na haar geboorte en sy het die normale dinge gehad wat enige babatjie het soos om te huil en soms nie genoeg melk te drink nie.
“Ek het sedert haar geboorte Covid-19 gehad en gedink Liane het ook Covid-19 omdat sy so huilerig was.”
Liane het egter begin opgegooi.
Haar pa, mnr. Quintin Roux en me. Roux het haar eers na die algemene dokter op Secunda geneem en die dokter het opgemerk dat daar iets met haar hart fout is.
Liane is toe na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria verwys.

Sy sou eers in Mei volgende jaar ’n afspraak kon kry, maar ’n kinderarts op Secunda het ’n motiveringsbrief geskryf en gesê Liane sal nie so lank kan wag nie en die gesin het vroeër ‘n afspraak gekry.
Dokters het bevestig dat Liane ’n gaatjie in haar hart het.
Dié toestand staan as ventrikulêre septale defek (VSD) bekend en die gaatjie skei haar linker- en regterkantste hartkamers van mekaar.
Liane was verlede week weer by die Steve Biko Hospitaal en dokters het nog toetse op haar gedoen en nóg hartprobleme ontdek.
Sy het ’n toestand genaamd dubbele uitlaat-regterventrikel (DORV) wat beteken die slagare wat in beide haar hartkamers moet wees, is in een van die hartkamers en daar is geen slagare in haar regterkantste hartkamer nie.
Sy het ook transposisie van die groot are (TGA) wat beteken die twee slagare wat bloed vanaf die hart na ander dele van haar liggaam vervoer, se posisies is omgeruil.
Die operasies wat Liane sal moet ondergaan, is dus groter as wat haar ouers voor gehoop het of verwag het.
Die egpaar se volgende stap is om Liane na ’n dieëtkundige te neem sodat sy gewig kan optel.
Sy word vinnig moeg as sy bottel drink en drink baie min en stadig.
“Liane sweet verkriklik as sy bottel drink omdat sy so hart moet werk om net bietjie melk te kry,” het me. Roux gesê.
Sy word soms blou in haar gesig soos wat sy sukkel om melk te drink.
Liane is tans op medikasie wat help dat haar hart nie so hard werk om genoeg suurstof na die res van haar liggaam te neem nie.
Hulle probeer ook om haar effens regop te laat sit want as sy heeltemal plat lê, sukkel sy om asem te kry.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en mnr. Roux werk aan en af as kontrakteur, maar bly deesdae voltyds tuis by Liane.
Mnr. Roux is gewoonlik die een wat Liane na al haar doktersafsprake neem omdat me. Roux voltyds werk.
“Dit is vir my erg om nie altyd te kan saamgaan as Quintin vir Liane Pretoria toe moet vat en hulle moet daar oorbly nie,” het me. Roux gesê.
“Ek weet nie eers waar om te begin of wat om te doen om haar te help en om geld in te samel nie.”
Me. Roux werk voltyds by ’n onderneming op Trichardt, maar die gesin sukkel finansiëel en woon saam met mnr. Roux se skoonouers om geld te spaar.
Hulle het ook twee seuntjies wat vier en ses jaar oud is.
Hulle wens is om Liane nou oor te plaas na die Maboneng Hart- en Long Instituut in Johannesburg, maar die professor by die Steve Biko Hospitaal sien die week weer vir Liane en moet dan eers ‘n motiveringsbrief skryf.
Die gesin benodig geld vir petrol en tolhekke omdat hulle nou gereeld vir Liane na Gauteng sal moet neem vir ondersoeke en behandeling.
Hul volgende afspraak by die hartspesialis is op 26 November.
’n Vriendin van me. Roux het vir die gesin ’n blad op Facebook gestig om te help met die geldinsamelingsproses en waar nuus oor Liane gedeel word.
Die Facebook-blad se naam is Liane Roux @Baby Liane R.
As jy die gesin wil help of ondersteun, stuur ’n boodskap op die Facebook-blad.



