AfriForum Behtal-tak oes spinasie vanuit gemeenskaptuin
Organisasie beplan om binekort kweekhuis op te rig.
Die bestuur en vrywilligers van AfriForum se Bethal-tak, het op Dinsdag, 28 September, spinasie vanuit dié tak se gemeenskaptuin geoes.
Dié tuin is in Julie verlede jaar deur AfriForum begin nadat die bestuur gesien het watse uitwerking die inperking op die Bethal-gemeenskap se werk- en voedselsekerheid gehad het.
Mnr. Hennie Bekker, die distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga, het gesê daar is 900m² se groentenette opgerig by dié tuin en in September verlede jaar is die eerste pale vir die struktuur opgerig.
Ná minder as ’n jaar spog dié tuin met sy eie boorgat om water te voorsien en sowat 2 800 spinasieplante, asook uie, aartappels en blaarslaai wat aangeplant is.
Mnr. Bekker het gesê tydens die heel eerste oes is sowat ’n derde van die spinasie geoes en 58 kg spinasie is aan die Bethal Sopkombuis geskenk.
AfriForum se Bethal-tak beoog om ’n kweekhuis op te rig om saailinge te verbou en die boorgat gaan uitgebrei word om ’n noodwaterpunt in die gemeenskap te word.
Die nuwe aanplantings vir die seisoen is bone, komkommer en wortels.
“Die projek op dié skaal is die eerste van sy soort in ons omgewing en ons is trots en dankbaar dat ons die projek tot op hierdie vlak kon uitbrei,” het me. Marilè Nieuwoudt, lid van AfriForum se Bethal-tak, gesê.




