Jacques Scholtz van Standerton het ’n nuwe kunsbeen nodig
Na ’n motorongeluk in 2003 by die verkeersligte by Pick n Pay, is sy regterbeen onder die knie afgesit.
Mnr. Jacques Scholtz van Standerton benodig ’n nuwe prostese vir sy regterbeen.
Hy beskou die situasie met moontlik ’n bietjie galgehumor.
“Hulle het vir my gejok toe gesê is die kunsbeen is soos jou eie been,” het mnr. Scholtz gesê.
Jacques is die afgelope drie maande aangewese op krukke omdat die kunsbeen die beenweefsel seergemaak het.
Die been het ook ’n redelike groot wond.
Dié meganiese passer by Toga Linings in die industriële gebied het die Standerton Advertiser op Donderdag 7 Oktober in die besoekersgebied te woord gestaan.
’n Familielid bring hom werk toe en hy gebruik tans ook ’n rolstoel.
Hy werk tans nie op die draaibank nie.
Jacques het sy ambag by dié maatskappy voltooi.
Na ’n motorongeluk in 2003 by die verkeersligte by Pick n Pay, is sy regterbeen onder die knie geamputeer.
Volgens hom, word aanbeveel dat ’n prostese ten minste elke vyf jaar vervang word.
Die tydsduur van die huidige kunsbeen raak-raak aan 13 jaar.
Vanaf die fabrieksgeboue tot by die parkeergebied is ’n redelike entjie.
“Ek loop gemiddeld 20 000 treë daagliks,” het hy mee afgesluit.
Die Scholtze het vyf jaar gelede vanaf Krugersdorp na Standerton teruggekeer en Jacques het nie ’n mediese fonds nie.
Solidariteit Helpende Hand bied op Saterdag 16 Oktober ’n ‘Colour Run’ aan.
Dié geldinsameling van die Standerton-tak is vir mediese doeleindes.
Volwassenes en kinders is welkom om te draf of te loop.
Die inskrywingsfooi beloop R50 per persoon en inskrywings geskied om 6:30.
Deelnemers sal omstreeks 7:00 wegspring om die 5km te voltooi.




