Local newsNews

Brian Mahlangu vertel sy storie van hoop op Bethal

Belangstellendes kan brilrame by plaaslike oogkundige aflaai.

’n Plaaslike oogkundige, mnr. Brian Mahlangu, het die Bethal VLU-tak tydens hul vergadering in September besoek en meer van sy lewensreis vertel.

Hy het die vroue gemaan om hul oë goed op te pas en gesê as hulle aan diabetes of hipertensie ly, moet hulle hul medikasie gereeld neem anders kan hulle hul sig verloor.

Hy het gesê ’n 15-jaar-lange droom is verwesenlik toe hy homself weer op Bethal kon vestig.

Hy het sy graad in 1984 in Turfloop aan die Universiteit van die Noorde verwerf en was hoofsaaklik in ’n private praktyk sedert 1985.

Dr. Jonathan Spilkin van Pretoria wat deesdae in Kanada woon het mnr. Mahlangu se derde en vierde jaar van studies gefinansier en hy het daarna drie jaar vir dr. Spilkin gewerk.

Mnr. Mahlangu het daarna sy eerste praktyk in Pretoria oopgemaak en gesê destyds was dit die eerste swart praktyk in die omgewing.

Hy was in 1989 en 1993 in ernstige motorongelukke betrokke en het onder andere hoofbeserings, kaakbeserings, korneale laserasies, beenfrakture, ontwrigting van die ruggraatbene van C5 en C6 en tydelike verlies aan sy fyn motoriese bewegings in sy regterhand opgedoen.

Mnr. Mahlangu het vir die VLU-vroue gesê hy glo dat dit nog nie sy tyd was om te gaan nie en dat die Here hom gespaar het om sy droom te verwesenlik.

Hy het sy praktyk in Pretoria toegemaak en by verskeie ander praktyke, onder andere, Walvisbaai en Windhoek in Namibië gewerk voordat hy homself in Oktober 2018 op Bethal gevestig het en Mahlangu Eyecare oopgemaak het.

Hy het op Bethal grootgeword en dit was vir lank sy droom om weer in sy eie gemeenskap te woon en te werk.
Hy het gesê sy hart is op Bethal en dat hy nog nooit soveel vrede ervaar het soos nou nie, want hy glo hy is nou waar die Here hom wil gebruik.

Mnr. Mahlangu is dankbaar om terug te wees by die huis en onvoltooide take af te handel en om ’n diens aan sy gemeenskap te kan lewer en terug te ploeg.

Hy het gesê daar is ’n groot behoefte aan brilrame en selfs ou brilrame kan nuttig gebruik word.

Belangstellendes is welkom om hul ou brilrame by sy praktyk te gaan aflaai.

Die Bethal VLU-tak vergader weer op Dinsdag, 19 Oktober om 13:30 by die N.G. Kerk Bethal-Oos-gemeente in Wichtstraat.

Vir meer inligting, skakel me. Lynette Posthumus by 072 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button