Local newsNews

Skoolhoof van Standerton woeker op lappie grond

Charles het die nodige permitte vir 81 spesies en sonder om ’n oomblik te aarsel het hy sysietjies, duifies, eende, ganse, eksotiese watervoëls, fisante en loeries opgenoem tot by sy gunsteling, bloukraanvoëls.

’n Skoolhoof van Standerton het sy lewensdroom bewaarheid.

Die plaas Vlakfontein van mnr. Charles van Vuuren van Standerton Primary School is ’n paar kilometers uit op die

Topfontein-pad, waar die eienaar begroet word deur sy inwonende versameling van inheemse en eksotiese voëls.

“Ek hou alles wat vere het, aan,” het hy gesê.

Dit het toeka begin en ’n landboutydskrif is weekliks deugeblaai.

“Ek en my broer, Thinus, het eerste gekyk na watter voëls gekoop kon word en watter plase te koop was,” het Charles onthou.

’n Eiendomsagent, me. Joan van Dyk, het destyds die lappie grond aan hom gewys.

Die knoop is uiteindelik deurgehaak en meer as 50 soorte voëls staan tans op hok.

“Ek het ’n groot liefde vir inheemse voëls.”

Charles het die nodige permitte vir 81 spesies en sonder om ’n oomblik te aarsel, het hy sysietjies, duifies, eende, ganse, eksotiese watervoëls, fisante en loeries opgenoem tot by sy gunsteling, bloukraanvoëls.

Nie minder nie as sewe dammetjies voorsien in sy geveerde vriende se behoeftes.

Hy is kennelik op hoogte van al die name van saadvreters en deins ook nie terug vir insekvreters nie.

Pa Jaap het sy liefde vir voëls aangewakker.

“My pa het duiwe aangehou en vir ons hoendertjies gekoop.

“Hy was vas oortuig dat dit jou ’n sin van verantwoordelikheid leer.”

Die R5-verjaarsdaggeld is menigmale gebruik vir hoenders en duiwe wat met die trein aangekom het.

Pa Jaap het opgedok as sy seuns nie die spoorvrag kon bybring nie.

Charles en Thinus was ook gewoond aan die vroegoggendtrein Johannesburg toe, waar die destydse Goudstad Onderwyskollege en die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit op hul gewag het.

’n Ander belangstelling is sweiswerk, wat begin het met die bou van voëlhokke.

“Ek moes altyd mense kry om te kom sweis,” het hy ook gesê.

“My pa het altyd gesê ’n ander se genade is ’n helse genade.”

Charles het besluit om homself te leer en kort voor lank is ’n sweismasjien aangeskaf.

’n Nuwe belangstelling het natuurlikheidsgewys hieruit ontstaan.

Met sy vaardighede in plek, kon hy sy hand aan dekoratiewe items, veral gewild by die vrouegeslag, waag.

“Ek kry bevrediging daaruit, hoewel ek moes afskaal toe dit ’n werk begin raak het.”

Die grendeltydperk het hom nie onverhoeds betrap nie en hy kon ’n buitedeur prakseer.

Charles het ook al gewonder hoekom Standerton so baie duiwe het en skryf dit grotendeels toe aan die

beskikbaarheid van kos.

Die graanlande in die omgewing is die trekpleister.

“Die grootringduif oorheers nou die landskap.”

Dit is bevestig met ’n onlangse bosvakansie na Alldays in Limpopo.

Baie min duiwe was daar te sien.

’n Gewone paar poue kan jou maklik R1 800 uit die sak jaag en die prys styg dramaties tot R20 000 vir ’n paar wit poue.

“n Mens mag nie handel met inheemse voëls dryf nie.”

As jy nie gewoond is aan die dood nie, moet jy nie met voëls boer nie, is een anekdote wat hom bygeval het.

Moontlik sal hy eendag ’n paar beeste op die plaas aanhou, maar vir eers hou sy beroep hom besig.

“Ek sal my doodhuil as ek eendag van die plaas af moet trek,” het hy mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button