Local newsNews

Kasselman-familie neem afskeid van tannie Hettie

Tannie Hettie se eerste pos as sekretaresse was by wyle oom Billy Lyons op die plaas, en later sou Jannie van haar kundigheid gebruikmaak om Kasselman Veiligheidsdienste op die been te bring.

Tannie Hettie Kasselman van Standerton is op 13 Oktober in die Kosmos Aftree-oord oorlede nadat sy in die siekeboeg opgeneem is.

Die Kasselman-familie het op Woensdag 20 Oktober ’n gedenkdiens in die N.G. Kerk se Moedergemeente gehou, wat ook op die kerk se Facebook-blad gevolg kon word.

Hester Nicolina Kasselman is op 31 Maart 1947 gebore op die plaas Wolwefontein in die Villiers-distrik.

’n Susterskind, me. Reinette Burgers van Frankfort, het tydens die diens grepies, waarvan baie kerkgangers onbewus was, uit tannie Hettie se verlede gedeel.

Haar laerskoolloopbaan is by Oudehout Primêre Skool voltooi en in die gr.1-juffrou se rapport is die volgende neergepen:

“Hester werk fluks en dit is ’n plesier om haar in die klas te hê.”

Nadat sy aan Balfour Hoërskool matriek afgelê het, het sy by ’n tegniese kollege in Pretoria haar vaardighede opgeskerp.

Tannie Hettie se voorkoms en sjarme het gesorg dat sy as ’n mannekyn opgetree het.

Boonop was sy ’n kranige hoedemaker.

Sy het op 27 Maart 1971 met mnr. Attie Kasselman op Greylingstad in die huwelik getree.

Vier kinders, Jannie, Carien, Frans en André is uit die huwelik gebore.

Carien moes sy egter op 29 Januarie 2014 aan die dood afstaan.

Tannie Hettie se eerste pos as sekretaresse was by wyle oom Billy Lyons op die plaas, en later sou Jannie van haar kundigheid gebruikmaak om Kasselman Veiligheidsdienste op die been te bring.

“Sy het nooit geskroom om hard te werk nie,” het me. Burgers gesê.

Ander karaktereienskappe benewens haar liefdevolle geaardheid, was haar geduld en ’n knap verstand.

Ds. Wihahn de Beer het die diens gelei wat gepaardgegaan het met visuele terugflitse en agtergrondmusiek, spesifiek volgens tannie Hettie se voorkeure.

Twee kerse is aangesteek op ’n tafel voor ’n protearuiker en foto van haar.

Ds. De Beer het met verwysing na Psalm 20 gesê dat Dawid nie van ’n aardse oorwinning praat nie.

Dié tema is teen die einde onderstreep met die sing van die Oorwinningslied.

Mnr. Frans Kasselman het die bedankings kort en kragtig gedoen.

Haar graf by die begraafplaas van die Kosmos Aftree-oord is reeds vroeër in gereedheid gekry.

Kleindogter Lisa-Marie se perspektief op die gebeure was bloot:

“Ouma gaan saggies die graf ingaan en wakkerword by Jesus.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button