Local newsNews

Estelle Swart groet Evander alleen na 40 jaar

Voormalige DA-raadslid sluit hoofstuk op Evander af.

Me. Estelle Swart (61), aktivis vir kankerbewusmaking en voormalige DA-raadslid, groet Evander ná 40 jaar.

Haar man, mnr. Koos Swart (59), is op Maandag, 16 Augustus aan Covid-19 dood en me. Swart verhuis einde Oktober na Pretoria, waar haar dogter, me. Adré Müller, ook woon.

Me. Swart raak steeds hartseer as sy oor haar oorlede man, wat alles vir haar gedoen het, praat.

“Hy het vir my kos gemaak, inkopies gedoen, onderklere gaan koop as ek onderklere nodig gehad het, parfuum gaan koop as my parfuum op was,” het sy vertel.

Me. Swart kry al sedert 2018 dialise.

Sy het bilaterale nierkanker gehad en haar een nier, asook ’n groot stuk van haar tweede nier, is in 2016 verwyder.

Sy het vir lank met net ’n kwart nier gefunksioneer totdat dit ook in 2018 verwyder is.

Sy gaan sedertdien drie keer weekliks na die dialise-sentrum op Trichardt.

Me. Swart was in die begin van vanjaar vir vyf maande in ’n rolstoel toe haar knieë probleme gegee het en sy was dankbaar toe sy in Junie weer sonder ’n rolstoel kon beweeg.

Weens die afwesigheid van haar niere en die dialise, word sy vinnig moeg en kan nie meer bestuur nie omdat sy agter die stuurwiel aan die slaap raak.

“Koos het my altyd na die dialise-sentrum geneem.”

Me. Swart reken haar man het geweet sy tyd om te sterf is naby omdat hy kort voor sy dood vir haar gesê het die lang bome roep hom.

“Ek vermoed ek het Covid-19 by die dialise-sentrum gekry en ek het hom aangesteek.

“Ons het die Maandagoggend voordat ek moes gaan vir my dialise, in die kamer gesit en ek het vir Koos gevra: ‘Wanneer gaan jy nou gesond word, jy hoes nogsteeds’,” het me. Swart vertel.

“Hy het gesê: ‘My vrou, die lang bome roep my’.

“Ek het vir hom gesê hy moenie nonsense praat nie en hy het weer gesê die lang bome roep hom.”

Me. Swart is toe dialise-sentrum toe en terwyl sy daar gesit het, het ’n familielid haar geskakel en gesê haar man is in die hospitaal opgeneem.

“Koos kon nie asem kry nie toe het hy die ambulans geskakel om hom te gaan haal en na die hospitaal te neem.

“Ek het vir my susterskind wat my geskakel het met die nuus, gevra hoekom het my man nie vir my gewag nie en dié het gesê hy lyk baie sleg.”

Mnr. Swart was vir drie weke in die Mediclinic Highveld voor hy na die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

“Ons kon hom glad nie sien in die tyd wat hy in die hospitaal was nie.”

Me. Estelle en mnr. Koos Swart was 40 jaar getroud. Hy is op Maandag, 16 Augustus dood. (Foto: Verskaf)

Mnr. Swart het later sekondêre infeksie opgedoen en die hospitaal het nog die dag voor mnr. Swart se dood vir me. Müller laat weet haar pa lyk beter.

Die volgende oggend het me. Swart egter ’n oproep gekry met die nuus dat haar man dood is.

“Hy het die sekondêre infeksie gehad, ’n hartaanval en septisemie.”

Me. Swart het gesê dit is vir haar verskriklik om te dink dat haar man nie meer daar is nie en sy sal hom as ’n kwaai, maar ’n liefdevolle man onthou wat altyd alles gegee het in alles wat hy gedoen het.

“Hy het nie geglo aan bietjies-bietjies nie, hy het die lewe voluit aangepak.”

Me. Swart reken dit gaan makliker wees vir haar om in Pretoria te bly waar sy op dieselfde erf as haar dogter gaan woon en naby aan spesialiste, ’n dialise-sentrum en hospitale gaan wees.

“My dogter en skoonseun werk beide van die huis af, so dit sal maklik wees vir hulle om my na my behandeling en dokters te neem.”

Sy is dankbaar teenoor haar vriendin, me. Valerie van den Berg, wat haar huidiglik neem vir dialise en na ander plekke waarheen sy nie meer self kan bestuur nie.

Sy het diep spore getrap in baie mense se lewens in die 40 jaar wat sy op Evander gebly het.

Me. Swart was nie net bekend as DA-raadslid nie, maar ook as iemand wat gereeld projekte aangepak het om uit te reik na die gemeenskap en ander te help.

Sy was vir lank by die nie-winsgewende organisasie, Gosh4Cancer betrokke en het ook baie gedoen vir slagoffers van geweld en verkragting.

Sy het gereeld projekte geloods waar sy teddiebeertjies, handsakke en toiletware aan mishandelde vroue en kinders uitgedeel het.

“Baie dankie aan die gemeenskap vir jare se liefde, toegeneentheid, samewerking en respek, selfs voordat ek as raadslid gedien het.”

Sy het ook almal wat haar ondersteun, vertroos en boodskappe gestuur het met mnr. Swart se dood, bedank.

Me. Swart wil graag weer by die DA betrokke raak as sy na Pretoria verhuis het, maar meer aan die welsynkant.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button