Ouma Willemien van Standerton se hande staan vir niks verkeerd nie
Met die padstalletjies wat sy suksesvol bedryf het, eers in die Brits-omgewing en ook op Middelburg, is allerlei konfyt, blatjang, groente, vrugte, grasmandjies vanaf Eswatini (Swaziland) van die hand gesit.
Gewis ’n trekvoël, maar van ledigheid is daar hoegenaamd nie sprake nie.
Ouma Willemien Pretorius, wat nou in die Kosmos Aftree-oord nesgeskop het, se oudste dogter, Welma, het gesorg dat tee en tuisgemaakte koekies vir die onderhoud byderhand was.
Dié bedrewe sakevrou het haar hand aan verskeie ondernemings gewaag, veral die padstalletjies wat sy donkiejare bedryf het, en sorg deesdae dat sy steeds bak en brou.
Haar man Johan, is in 1991 oorlede en was destyds die boukontrakteur wat verantwoordelik vir die eerste huise by die Department van Waterwese.
Om by die begin te begin, die Pretoriusse het op ’n klein plasie, Elandskraal in die Brits-omgewing gebly.
Die gesin het in die Laeveld, KwaZulu-Natal en Hoëveld gebly en al die kinders het destyds op Witrivier skoolgegaan.
Willem, Cas, Welma en Annatjie is in die eerste vier jare van die huwelik gebore, met Carien wat later opgedaag het.
Die laatlam, pa Johan se naamgenoot, is op 11 maande oorlede.
“Van my kinders het berading na die tyd gekry,” het ouma vertel.
Almal moes polisieverklarings aflê.
Ma en dogter, Welma was oppad Witrivier toe om jukskeie vir Welma vir ’n toernooi op Kroonstad te gaan haal.
Die baba is in die sorg van opgeskote seuns, wat aan huis gekuier het, en ’n huisbediende gelaat, veilig in sy kot.
Die mode van ingesonke baddens het een van die seuns laat besluit om daarin te bad, wat toe gebeur het.
Die water is nooit uitgetap nie.
“Ek het my baba met ons terugkoms op die water sien dryf.
“Dit was te laat, hy was dood.”
Die huisbediende was so getraumatiseerd dat sy vir ’n tydperk geïnstitusionaliseer is.
’n Moontlike verklaring van hoe woelige klein Johan in die bad beland het, is dat hy die tralies van die kot afgeslaan kon kry en na die bad gekruip het.
Die gesin het in 1976 na Standerton verhuis.
Wyle Johan het die biblioteek op Val gebou en ook die ontspanningsaal op eMbalenhle.
Dié veelsydige man het ook ’n fabriek op ’n stadium besit, vir ’n tabakboer gewerk, grondboontjies verbou, was eienaar van die hotel op Perdekop, met sy vrou wat ’n tweedehandse meubelwinkel en later ’n groentewinkel bedryf het.

Haar ondervindinge by die meubelwinkel op Standerton spreek boekdele.
“My hartjie was net te klein en ek is soms ingeloop en uitgebuit.”
Dit het voor die wind met die groentewinkel gegaan en vars groente is weekliks van die mark, deur ’n vriend, gehaal.
“Dit was nogal lekker.”
Met die padstalletjies wat sy suksesvol bedryf het, eers in die Brits-omgewing en ook op Middelburg, is allerlei konfyt, blatjang, groente, vrugte, grasmandjies vanaf Eswatini (Swaziland) van die hand gesit.
Onder haar bedrewe hande is konfyt van tamaties, appelkose, perskes, aarbeie, nartjies, komkommers, vye en kwepers gemaak en moenie van die wortelblatjang en perske-atjar vergeet nie.
In daardie jare was appelkose en perskes net vir twee weke beskikbaar en 14 kratte, van albei, is dan in kastrolle gekook, op twee gasstofies met drie plate elk.
Die padstalletjie op Middelburg het vir ’n erge ondervinding gesorg toe hulle onder rowers deurgeloop het.
Sy het ongeskonde daarvan afgekom maar Willem het besluit, genoeg is genoeg.
“Willem, ek sit met 45kg konfyt.
“Wat gaan ek daarmee maak?”

Annatjie het destyds by die Wilgers Hospitaal in Pretoria gewerk en kort voor lank is ’n voorraadlys gefaks.
“Tannie Willemien, ek sal al die konfyt vat, maar op een voorwaarde,” het die hospitaalman, ene Alwyn, gesê.
“Ek wil elke maand 45kg hê, nie heel nie, maar smeerkonfyt.”
Met die draai van die nuwe millenium vir nagenoeg 13 jaar, is die hospitaal bedien.
Sy het op 1 April 2019 in ’n woonstel by die ouetehuis ingetrek en maak nou ook sommer melkterte, souttertjies en piesangkolwyntjies.
Vir die vrou wat toentertyd in ’n wa met osse nagmaal op Rustenburg gaan bywoon het en viool kan speel, is niks blykbaar te moeilik nie.
“Ek kan nie stilsit nie, ek sal van my verstand af raak,” het sy doodluiters opgemerk.



