Plaaslike sanger, Shoneill, het aan die einde van verlede jaar eers ’n breuk van die musiekindustrie geneem toe haar seuntjie gebore is, maar sy is nou weer reg vir aksie.
“Ek wou die nodige tyd met my baba bestee, dit neem ’n bietjie tyd om ’n mens se voete te vind as ma vir die eerste keer,” het sy vertel.
Sy is egter weer terug as sanger en haar nuutste enkelsnit, Wakker Raak, is onlangs vrygestel.
Dié enkelsnit beskryf presies hoe sy tans oor die lewe voel.
“Dis ’n droom waaruit ek nie wil wakker word nie,” het sy gesê.
Die bekroonde liedjieskrywer, Johan Oberholzer, het Shoneill se nuutste liedjie geskryf en sy het vertel dat dit ook haar ’n storie vertel.
“Ek het vir Johan verduidelik dat ek op ’n stadium in my lewe is waar ek smoorverlief is op my droomman en ek het nooit gedink dat ek so gelukkig getroud kan wees nie.
“Johan het met daardie inspirasie Wakker Raak geskryf en ek het dadelik aanklank gevind by die liedjie weens die feit dat die liedjie se woorde gepas is vir die huidige lewenspad waarop ek tans in my huwelik is.”
Sy is al langer as twee jaar met mnr. Daylan Appelgryn getroud.
Dié twee was vir vier jaar net goeie vriende en het, terwyl mnr. Appelgryn oorsee gewerk het, gereeld deur middal van video-oproepe gesels.
“Ons het toe besef daar is meer as net vriendskap tussen ons en het verlief geraak,” het Shoneill vertel.
Sy glo dus nog in liefde en ook dat daar nog baie mense is wat steeds gelukkig is.
Sy meen Wakker Raak is ’n liedjie wat baie mense aan hul lewensmaats kan opdra.
“Op die ou einde is liefde al wat saak maak.”
Shoneill hoop dat elke luisteraar nostalgies sal raak oor waar hulle hulself bevind.
“Ek wil mense aanraak deur my musiek.
“Soos wat gebeur het toe ’n vrou een aand vir my kom vertel het dat een van my liedjies haar laat besluit het om nie van haar man te skei nie.”
Musiek is reeds vanaf ’n jong ouderdom deel van Shoneill se lewe en haar ma en ouma het gereeld gesing terwyl haar oupa mondfluitjie en kitaar gespeel het.
Shoneill se sangloopbaan het begin toe sy 12 jaar oud was en sy het sedertdien verskeie enkelsnitte vrygestel.
Sy het aan sangkompetisies begin deelneem toe sy klaar gemaak het met gr. 12 op Koppies buite Sasolburg en toe besef het dat sy ’n suksesvolle kunstenaar sal kan wees.
Na talle optredes by funksies, feeste en casinos onder andere, het sy ’n paar kontrakte as sanger op die MSC Sinfonia voltooi en daarna by Sun City as sanger opgetree terwyl sy steeds haar eie liedjies geskryf het en gewerk het aan ’n musiekvideo.
Sy kon uiteindelik haar droom verwesenlik en haar eie album voltooi saam met bekende musiekvervaardigers in die bedryf.
Haar treffer, Agter die Deur, word tans op 34 radiostasies gespeel en twee van haar ander liedjies, Ek het jou Lief en Vas Dans is onder die top 26 treffers op KykNet se Afri-Visie – skryf ’n Treffer-kompetisie.
Van Shoneill se musiekvideo’s kan op KykNet, KykNet Musiek en KykNet NOU gesien word en sy het al haar verskyning gemaak op die programme, Jukeboks, Jam en Afri-Visie op die KykNet kanaal.
Haar liedjie, Crazy, is in die kort film genaamd, Vrek gebruik en haar liedjie, Switch on your Love, is op die kompilasie-album, Byron Keno, vrygestel.
Haar album, Nooit of Nou, het agt oorspronklike liedjies op, almal vanuit Shoneill se pen asook ’n paar Engelse liedjies van ander kunstenaars.
Die titelsnit van dié album is op die gewilde Tekno CD, Hart van Goud, vrygestel wat deur Next Musiek versprei word.
Luister na Shoneill se liedjie, Wakker Raak, deur op die skakel te kliek: https://marketingzoocoza-my.sharepoint.com/:u:/g/personal/wian_marketingzoo_co_za/EWCWmAc7JbNMhs4S-KzTNVoBcEBZCsZiodxrmSn7upJkdw?e=m5bsL8




