Local newsNews

Oud-kleuterskoolhoof spreek VLU-vroue op Bethal toe

Bethal VLU-tak sluit in November hul jaar af.

Lede van die Bethal VLU-tak het op Dinsdag, 19 Oktober vergader en me. Marieta Cronjé, oud-hoof van Siembamba Kleuterskool en Wonderland Kleuterskool, het die vroue toegespreek.

Me. Lynette Posthumus, skakelbeampte, het gesê baie Bethallers se kinders is deur me. Cronjé se hande en sy het vir 25 jaar aan die stuur van Wonderland Kleuterskool gestaan.

Me. Cronjé leef ook haar passie as kunstenaar uit en het gesê kreatiwiteit is in elke persoon ingeskape deur God, die kreatiewe Skepper.

“Elkeen van ons se gawes verskil en elkeen het ’n kombinasie van gawes van die gees gekry – om jou daaglikse werk te doen én om God se werk te doen,” het me. Cronjé gesê.

“Wanneer jy jou gawes begin uitleef, word jy volkome vrou.

“Wat jy in en om jou huis doen om dit mooi te laat lyk, hoe jy tuin maak, hoe jy jou huis binne versier, om net mooi aan te trek, is kreatiwiteit.

“Almal is nie kreatief op alle terreine nie, maar elkeen se kombinasie van gawes maak hom of haar uniek.”

Me. Cronjé het die VLU-vroue aangespoor om hul kreatiwiteit aan te vuur en nie te verwaarloos nie.

Sy het na haar aftrede gevoel sy het ’n skoon skilderdoek voor haar en haarself gevra wie sy wil wees of word en ook, wat wil die Here hê.

“Ons kan mekaar leer om die natuur meer te waardeer, deur te kyk na ’n mooi blom, die voëls rondom ons of deur te ruik aan ’n geurige roos.

“Noudat ek meer tyd het, begin ek meer dinge met my sintuie ondervind.

“Jou perspektief word deur jou eie bril bepaal.

“Jy moet vrede en mooi in jou hart hê, en dit is net moontlik as jou verhouding met God reg is.”

Me. Cronjé leef nou doelbewus dankbaar en sintuiglik.

Sy hoor die lystertjie en swaeltjies in haar tuin, sy het nou tyd om verhoudings te bou en om te gee.

Haar kleinkinders, tuinwerk, teken, oefen en gemeentebetrokkenheid vervul haar lewe.

Sy het gesê dit is wonderlik om tyd te hê en mense teen ’n stadiger pas raak te leef.

Sy het Richard Branson se gesegde aangehaal wat lui: ‘Live life to the full, enjoy every moment, have fun, enjoy your family’.

Die Bethal VLU-tak sluit in November hul jaar af en belangstellendes wat in Januarie by dié VLU-tak wil aansluit, kan me. Posthumus skakel op 072 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button