Isabel Martinson van Standerton-omgewing se radiodramas kry lugtyd
Haar loopbaan het eers begin vlamvat nadat sy doelgerig op 23-jarige leeftyd sowat 500 tot 1 000 woorde daagliks begin skryf het.
’n Perdekop-skrywer, Isabel Martinson, se radiodrama is onlangs op ’n nasionale radiostasie uitgesaai.
Haar loopbaan het eers begin vlamvat nadat sy doelgerig op 23-jarige leeftyd sowat 500 tot 1 000 woorde daagliks begin skryf het.
Isabel is op die plaas Burgershoop, naby Perdekop gebore en getoë, en haar hoërskooljare is in 2004 op Morgenzon voltooi.
“Toe ek 16 jaar oud was, het ek ’n werk van Mark Twain gelees,” het Isabel vertel.
“Sy skryfstyl, asook die voorwoord waarin gesê is hoe hy begin skryf het, het as inspirasie gedien.
“Min het ek geweet waarvoor ek my inlaat.”
Sy het daarna aan dramaskryfkompetisies begin deelneem, helaas sonder sukses.
“My eerste deurbraak was sewe jaar later met ’n kortverhaal wat in ’n nasionale landboutydskrif gepubliseer is.”
Isabel het sewe radiodramas op haar kerfstok, waarvan Pap en Kaviaar en Hemelblou opgevoer is.
“Toe ek jonger was, het ek inspirasie uit tasbare, wêreldse dinge geput.
“Dit was ’n fout en ek is dankbaar dat geeneen van daardie werke ooit vir publikasie aanvaar is nie.”
Die eerste verhaal wat met bravade aangepak is, is gepubliseer, wat ’n groot les vir haar was.
Isabel se benadering het algaande verander en ’n natuurbewussyn het wortelgeskiet.
“Die Hoëveld spreek tot my met die veranderende aard van die omgewing.“
Donderstorms, periodieke sneeu en kapok, ysreën, dou, motreën, stortreën, misreën en self wolkbreuke kan maar kom.
Isabel het mettertyd geleer om iets moois in die hael en ysreën ook te sien, in weerwil van die swaarkry wat dit bring.
Ander belangstellings en stokperdjies is daar ook soos kosmaak, naaldwerk, sportskiet, stap, swem, karate, fotografie en kuns.
Haar gunsteling Afrikaanse skrywers is Dot Serfontein, Anoeschka von Meck en Mikro, terwyl Mark Twain, Jane Austen en Betty Smith in Engels die botoon voer.
Isabel se musieksmaak is nie gebonde aan ’n spesifieke genre nie, moontlik val net Rap en Techno uit die bus.
Sy boer nou in familieverband met haar twee vierbeenmetgeselle, Stokkies en Boelie, wat destyds op Standerton se veilingskrale gekoop is, aan haar sy.
“Hulle is uitstekende plaashonde,” het Isabel gesê.
Twee mannetjieskatte is ook al vyf jaar op die plaas, op leen van die bure en moet nie vergeet van die hanslam,
Bok, wat diep in haar hart ingekruip het.
Dié skrywer is ’n Hoëvelder in murg en been en het skertsend die moontlikheid oorweeg dat daar iets in die water is.




