Trichardt sielkundige maan gemeenskap om uit te kyk vir mekaar
Rolspelers woon netwerksessie by.
Die nie-winsgewende welsynsorganisasie, Tutela, en Laerskool Goedehoop het onlangs hande geneem om te verseker dat kinders in die algeheel kan groei en floreer in ’n veilige omgewing.
Rolspelers wat personeel van Laerskool Goedehoop, Tutela en ’n sielkundige insluit, het onlangs ’n netwerksessie by Huiz Ta-Ché op Trichardt bygewoon, om mekaar beter te leer ken.
Me. Ronel Sadie, sielkundige, het gesê die volle impak wat Covid-19 op die gemeenskap en spesifiek op die mees weerlose kinders het, kan nou eers werklik gesien word.
Sy meen onderwysers, maatskaplike werkers, professionele mense en alle volwassenes moet nou, meer as ooit tevore, saam staan, hande neem en netwerk om kinders te beskerm en op te hef.
“Kyk uit en kyk waar jy ’n verskil kan maak,” het me. Sadie gesê.
“Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie, dikwels is dit bloot net om weg te kyk en niks te doen nie.
“Kyk rond en reik ’n helende hand uit om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak, raak betrokke.”
Me. Sadie het die spreukwoord: ‘It takes a whole village to raise a child’ aangehaal en gesê mense moet fyn luister en kyk of daar dalk ’n gesin of ’n kind in hul omgewing is wat hul lig of vonkel in die oog verloor het.
“Dit kan jou kind se klasmaat, ’n kollega of die bure se kind wees.”
Me. Philia Jansen, departementshoof by Laerskool Goedehoop, asook me. Chemondre Prinsloo, maatskaplike werker by Tutela, en me. Ronel McIntyre, administratiewe assistent by Tutela, het ook dié netwerksessie bygewoon.



