ATKV benodig donasies om kinders se Kerswense te bewaarheid
Ondersteun vereniging se gemeenskapsprojek.

ATKV Kosmosrand se nuutste projek is om 30 kinders wat in pleegsorg of ’n plek van veiligheid is, en hul nege helpers, te bederf met ’n Kersfees-piekniek.
Die ATKV benodig kos en lekkernye vir die piekniek wat hulle op 10 Desember wil aanbied.
Van die benodigdhede wat die ATKV nog kort, is vier dosyn broodrolletjies, twee pakke viennas, tamatiesous, een houer margarine, ses groot pakke skyfies, 24 suigstokkies, 20 botteltjies Oros koeldrank, twee groter bottels Oros koeldrank om aan te maak, twee waatlemoene, 4l gaskoeldrank vir die helpers, ’n paar pakkies koekies en ysies.
Die ATKV-lede wil, buiten die piekniek, ook graag al die kinders en helpers bederf met ’n geskenkpakkie en benodig geld vir die geskenke omdat die groter kinders spesifieke wenslysies het, enige handeroom of ander bederfies vir die werkers se geskenkpakkies en sagte speelgoed (nuut of tweedehands).
“Ons wil probeer om dit te koop wat op die kinders se wenslysie is en gaan die lekkers en van die ander items in grootmaat aankoop om die beste pryse te kry,” het die Kosmosrand-tak se voorsitter, me. Tracey van Wyk, gesê.
Die tak het reeds ’n borg vir ’n springkasteel vir die dag gekry, maar wil graag ’n netbalring en paar balle ook kry sodat daar meer aktiwiteite vir die kinders kan wees op die dag van die piekniek.
“Ons, as die ATKV Kosmosrand-tak, wil graag met die gemeenskap hande neem om van dié projek ’n sukses te maak en elke behoeftige kind se Kerswens bewaarheid.”
Vir meer inligting, of om ’n bydrae of skenking te maak, skakel me. Tracey van Wyk by 071 103 6381 of me. Lorraine Boshoff by 085 096 5980 of me. Laurika Steenkamp by 083 566 4790.



