Sinkgat op die R50 steeds nie herstel nie
Op sosiale media wys beeldmateriaal duidelik hoedat, in twee afsonderlike gevalle, motors letterlik binne in die reuse sinkgat beland het.
Die debat rondom die berugte sinkgat op die R50 Delmas-pad het onlangs weer op sosiale media vlam gevat.
Dit het gevolg nadat foto’s verskyn het waarin ’n ontstoke motoris sy misnoeë omtrent die gebrek aan veiligheid uitgespreek het.
Op sosiale media wys beeldmateriaal duidelik hoedat, in twee afsonderlike gevalle, motors letterlik binne in die reuse sinkgat beland het.
Daar was verder beweer dat die veiligheidshindernisse opsetlik geskuif word en dat slagoffers dan beroof word.

Geen bevestiging kon egter vir hierdie beweringe verkry word nie.
Soos in Streeknuus (Januarie 2020) berig, het die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer op 1 November 2019 in ’n mediaverklaring aangekondig dat die pad weens die ontstaan van ’n reuse sinkgat vir veiligheidsredes gesluit is.
Die sinkgat het sowat 6km vanaf die R25- en R50-kruising, 16 km oos van Bapsfontein ontstaan.
“Weens die ernstige aard van die sinkgat, het die departement toe ’n maatskappy aangestel om gedetailleerde geotegniese ondersoeke in te stel.
“Sodra hierdie ondersoek afgehandel is, sal die verslag die stappe wat benodig word en die nodige aksies uitstippel,” was deur die departement in ’n mediaverklaring op 1 November 2019 gesê.

Maar nóú, twee jaar later, blyk daar nie veel hoop vir die herstel van die belangrike toegang van Delmas en omliggende omgewing se inwoners van en na Pretoria te wees nie.
Die sinkgat was wel vir ’n kort tydjie tydelik opgevul en die pad was oop vir gebruikers, maar is kort daarna weer gesluit.
’n Woordvoerder van Emer-G-Med het bevestig dat hulle na een so ’n toneel op die R50 gehaas het waar ’n BMW in die sinkgat beland het.
Dit is verder bevestig dat die veiligheidshindernisse verwyder was en die bestuurder van die BMW niks vermoedend die pad gebruik het, waarna hy in die reuse sinkgat beland het.
Streeknuus het die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer genader oor die beplanning en tydraam rondom die herstel van die R50-sinkgat asook die onlangse ongelukke.
Teen druktyd kon geen kommentaar egter nog verkry word nie.



