Local newsNews

Bethal-tiener moet ’n kunsbeen kry

Bethal-tiener verwerk die verlies van haar been.

Abigail Botha (15) sukkel om te aanvaar dat sy nie meer ’n been het nie.

Hoewel sy in Junie, tydens ’n onderhoud met die Ridge Times, gesê het, sy wens sy kan haar been laat amputeer, is die realiteit daarvan en die emosionele aanvaarding nou moeiliker as wat sy of haar ma, me. Mariëtte Botha, gedink het.

Abigail se been is vergruis in ’n motorongeluk in 2014 en ná 15 operasies die afgelope sewe jaar, waartydens dokters veloorplantings gedoen het en haar been moes skoonmaak, het het sy daagliks pyn gehad en met haar been gesukkel.

Dokters het destyds haar been gered, maar haar ouers het agtergekom haar regterbeen en -voet groei nie saam met haar linkerbeen en -voet nie.

Haar regterbeen en -voet was misvorm en sy moes in elk geval met krukke loop.

Haar rug en heup het begin skeef trek omdat sy nie normaal kon loop nie en me. Botha glo dit sou net nog groter gesondheidsprobleme vir haar in die toekoms veroorsaak,

Die gesin het geld ingesamel sodat Abigail se been afgesit kon word en dié operasie is uiteindelik op Vrydag, 5 November by die Mediclinic Midstream in Pretoria gedoen.

’n Organisasie wat uitreik na mense, Operation Healing Hands, wat deur dr. Helena Basson gestig is, het vir Abigail se operasie betaal.

Daar is egter voortdurend uitgawes in die vorm van brandstof, verbande en ontsmettingsmiddels.

Me. Botha het almal wat hul vanjaar finansieël ondersteun en donasies gegee het, bedank en gesê dié geld word nou vir bogenoemde uitgawes aangewend.

Abigail moet dié week beide die dokter wat haar been afgesit het, asook die dokter wat vir haar ’n kunsbeen gaan maak, gaan sien.

Die gesin sal dan hoor wat is die volgende stappe en hoe lank dit nog gaan neem totdat Abigail haar kunsbeen kan kry.

“Dit is ’n lang proses, dit is nie net ’n kwessie van gaan hospitaal toe, sit die been af, kry ’n kunsbeen en dan is jy klaar nie,” het me. Botha gesê.

“Om ’n mens se been te laat amputeer, is ’n geweldige sielkundige proses en Abigail sukkel daarmee en kry daagliks spookpyne.”

Abigail sterk tans tuis aan en die dokter het gesê dit is beter as sy nie nou skool toe gaan nie.

Sy doen haar gr.9-jaar by ’n privaatskool, Rapha Tutor Centre, en haar onderwyser, me. Jolien van Deventer, gaan Abigail nou tuis besoek sodat sy haar eksamens vir 2021 tuis kan skryf.

“Sy gaan uit haar pad om Abigail te help met haar skoolwerk,” het me. Botha gesê.

Intussen werk sy aan haar emosies en berei haarself voor vir ’n nuwe leerskool en manier van dinge doen as sy uiteindelik haar kunsbeen kry.

Me. Botha gaan probeer om die kostes vir die nuwe kunsbeen van die padongelukfonds te eis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button