Local newsNews

Ds Christo Jooste is gereed vir sy bediening op Standerton

Covid-19 en die inperkings het onwillekeurig ter sprake gekom en volgens hom, is een van die uitvloeisels ’n geloofsgroei by lidmate.

Ds. Christo Jooste het op Sondag 21 November sy intreepreek by die AP Kerk Standerton gelewer, wat gepaard gegaan het met ’n Kerssangdiens.

Dié boorling van Groblersdal het eers teologie by die APA gaan studeer wat die kerkverband se afsonderlike akademie is, nadat hy gewerk en gespaar het om sy studies te kan bekostig.

Ook het hy betreklik laat, op 29, in die huwelik met Deirdre, ’n arbeidsterapeut getree.

“n Vrou met ’n identiteit is ’n houvrou,” het ds. Christo vertel.

“Ek het aanvanklik gedink dat ek een van daardie mense in die Bybel sou wees, wat gelukkiger op hul eie is.”

Die egpaar is in 2015 op Heidelberg getroud.

Die gesin bestaan ook uit die woelige, driejarige seunskind, Hendrik De la Port Jooste, waar familiename voorrang geniet het.

“My volgende seun se naam is Izak Stephanus Jooste.”

Hy is deur-en-deur familievas vir die eenvoudige rede dat dit identiteit skep, wat ook ’n voorreg is.

“Daarbenewens is dit goed om aan jou wortels vas te hou,” het hy bygevoeg.

Kersfees is familietyd en die drie Jooste-broers bring dit gewoonlik aan die Weskus deur.

“Ek gaan elke Kersfees vir die res van my tydperk as predikant bloot met ’n preek begin.”

Die teologiestudies het ses jaar geduur, drie jaar van ’n BA en drie jaar van ’n BTh.

“Dit was ’n voorreg om teologie te studeer,” het hy gesê.

Slegs drie van vyf studente het na hul finale jaar die bediening betree.

Studente van ander denominasies skryf ook by die akademie in.

Die in-diepte-studie van die Bybel waaraan studente blootgestel word, bly hom by, sowel as die vaardighede wat by studente ingeskerp is in onder meer berading, terapie en die hantering van probleemstituasies.

Ds. Jooste is in 2018 gelegimiteer en sy eerste gemeente was op Marble Hall.

By die huis, is dié Blou Bul-ondersteuner geneig om op die skeidsregter te skree en self het hy op skool as skrumskakel uitgedraf en provinsiaal meegeding.

Deesdae is die groen setperke sy gunsteling stokperdjie.

Dit was nie nodig om die vraag te vra of hy van braai hou nie.

Covid-19 en die inperkings het onwillekeurig ter sprake gekom en volgens hom, is een van die uitvloeisels ’n geloofsgroei by lidmate.

Sy vrou het die koronavirus opgedoen, maar hy het in weerwil van in ambulanse klim en totsiens aan lidmate sê, ongedeerd daarvan afgekom.

”Ons moes in 2021 wel 11 meelewende lidmate aan die dood afstaan.

“n Mens het nog nooit soveel siek en bang mense in die kerk gesien nie.

“n Nuwe emosie in die rouproses het na vore getree, woede teenoor die omstandighede.

“Mense kon nie hul geliefdes groet nie.”

Met betrekking tot die afwesigheid van ’n verwysingsraamwerk waarvolgens mense die pandemie moes begin hanteer, is die leerskool wat vir toekomstige generasies geskep is, vir hom tot voordeel.

Ds. Christo het genoem dat psigiese uitputting algemeen in die gemeenskap voorkom.

“Ek strewe dus na ’n vol, gesonde en geestelik-gedrewe kerk,” is sy benadering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button