Local newsNews

Rondloper-hen op Secunda is nou in hoender-hemel

Hier is hoenders nie tot die pot verdoen nie, maar gaan hulle aan natuurlike oorsake dood.

Poppie ’n verdwaalde hen, het moontlik die pad oorgesteek om by die Viljoens se hoender-hemel in Swartbergstraat uit te kom.

Hier is hoenders nie tot die pot verdoem nie, maar gaan hulle aan natuurlike oorsake dood. Boonop kry hulle sulke oulike snoesige jassies om te dra as die windjie bietjie skraal is.

Me. Lynette Viljoen het aan die rondloper-hennetjie gekom toe iemand op die WhatsApp-groep, Verlore Diere Secunda gevra het vir hande om ’n mak hoender in Gainsboroughstraat te vang.

“Ons help graag soek na diere en kon al ’n hele paar help om terug by die huis te kom.

“Toe iemand op 6 November om hulp gevra het, het ek het dadelik geweet ons kan help omdat ons ’n paar van ons eie hoendertjies het,” het sy verduidelik.

Me. Viljoen het die persoon gesakel en sy en haar dogter het in die motor gespring om die hoendertjie te gaan haal.

“Die man het vertel dat die hennetjie al die heel dag op en af in die straat rondegeloop het en toe op hul motor kom spring het toe dit donker word.

“Hulle het haar reeds gevang gehad toe ons daar opdaag en sy was rustig. Die mense kon nie die hoendertjie hou nie want hulle honde sou dit nie toelaat nie,” het me. Viljoen vertel.

Me. Lynette Viljoen met Poppie die optelhoender. (Foto:Verskaf)

By die Viljoens se huis is daar vir die hen ’n jassie aangetrek want van haar vere was nie mooi uitgegroei nie.

“Ons het haar in ’n groot hok gesit om te oornag en sy het rustig geslaap.

“Sy was die volgende oggend vroeg saam met die ander hoenders, maar het gestres gelyk om so op hok te bly.”

Me. Viljoen het later die oggend die hok oogemaak en het maar naby gestaan om te kyk wat haar reaksie op die ander henne was.

“Daar was een skermutseling en toe wei sy lekker saam met hulle. Die aand het ons haar geroep om weer in die groot hok te slaap, maar sy het self besluit om saam met die ander op hok te slaap en hulle het haar toegelaat.

“Sy is nou een van die groep. Ons kyk steeds uit vir enige iemand wat dalk die hennetjie verloor het, maar vir nou is sy rustig en veilig tussen ons ander.”

Volgens me. Viljoen deel die hoenders die erf met drie wilde katte sonder enige voorvalle.

“Ons voer maar die katte buite anders vreet die hoenders hul kos op.”

Dié geveerdes hoef ook geensins te vrees dat hulle dalk op die Viljoens se etenstafel sal beland nie.

“Ons eet net hul eiers,” het me. Viljoen gepaai.

Die Viljoens het besluit om die hen Poppie te noem omdat sy so ’n oulike persoonlikheid het.

“Sy is ’n regte dame.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button